IS JY "NA AAN GOD SE HART"? (DAG 9 van 25)

Deur: Benescke Botha

 

Dis laatnag. Die donker omvou jou waar jy nou in die rigting van die ver af geluid begin stap. Deur die stegie. Op teen die trappe. Die geluid word nou al harder. Dit klink soos iemand wat huil? Iemand wat smekend bid? By die deur wat op 'n skrefie oopstaan stop jy. En waar jy nou vorentoe leun om beter te sien snak jy na jou asem wanneer jy die man se gesig in die kerslig herken.

 

Dit is die skaapwagter. Die reusvegter. Die generaal van Israel se weermag. Die koning van Israel. Maar hier op die klipvloer is Dawid nou die man wat met 'n hart vol berou vir God se vergifnis smeek. Hoe kon hy ooit in 'n buite-egtelike verhouding betrokke raak? Hoe kon hy tot moord oorgaan? Sal God hom ooit vergewe?

 

Flits nou terug in tyd en luister na Samuel se woorde waar hy nou God se boodskap aan Saul oordra. 1 Samuel 13-14 oordra: "Maar nou sal jou (Saul) koningskap nie bestendig word nie. Die Here sal vir Hom 'n man na sy hart soek. Die Here sal hóm aanstel as regeerder oor sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here jou beveel het nie." Saul was ongehoorsaam en God het hom verwerp.

 

Flits nou vorentoe in tyd na waar Samuel vir Dawid as die tweede koning van Israel salf. Dawid, die jong skaapwagter wat God as "'n man na aan sy hart" gekies het. Maar wat was dit wat Dawid so spesiaal gemaak het? Hier is slegs drie eienskappe:

 

EIENSKAP 1: DAWID HET GOD SE HEILIGHEID EN KRAG VERSTAAN:

  • 1 Samuel 17:45-46: "Maar Dawid sê vir die Filistyn: 'Jy kom na my toe met 'n dolk en 'n spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die hele wêreld kan besef dat Israel 'n God het.'"

 

EIENSKAP 2: DAWID WAS 100% EERLIK MET GOD:Dawid het werklik 'n verhouding met God gehad. As hy kwaad vir sy vyande was, het hy dit vir God gesê. As hy bly was, het hy voor God gedans.

  • Psalm 58: 7-9: "Ruk hulle tande uit hulle mond uit, o God! Laat hulle verdwyn soos water wat wegsyfer, laat hulle fyngetrap word soos droë gras. Laat hulle wegraak soos slakke wat net slym agterlaat, laat hulle word soos misgeboortes, sonder lewe."
  • Psalm 100: 1-5: "Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! ...die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag."

 

EIENSKAP 3: DAWID HET ONMIDDELLIK SY SONDE BELY:Dawid het verstaan dat sy sonde tussen hom en God sou kom staan. Hy het daarom gestreef daarna om met 'n rein hart voor God te leef.

  • Psalm 24:3-4: "Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is..."

 

Flits vir 'n oomblik terug na die vertrek waarin Dawid met berou op sy knieë voor God staan. Die skaapwagter. Die reusvegter. Die generaal van Israel se weermag. Die koning van Israel. Maar nou die man wat vir God se vergifnis smeek: "Wees my genadig, o God in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig" (Psalm 51: 3-6).

 

Kan jy vandag met Dawid identifiseer? Loop jy met 'n skuldgevoel binne jou rond omdat jy weet dat jou sonde jou van God weghou? Onthou, as jy met 'n opregte hart jou sondes voor God bely en kies om daarvan weg te draai wag daar vir jou, net soos vir Dawid, ook 'n tweede kans. Gaan jy kies om vandag voor God te kniel? Sterkte.  

 

Vader God, dankie dat U my nie verwerp nie, maar my vergewe wanneer ek met opregtheid en ware berou na U toe kom. Ek bring daarom vandag (waaroor jy skuldig voel) na U toe. Vergewe my asseblief en help my deur u Heilige Gees om nie weer dieselfde fout in die toekoms te maak nie. Ek bid daarvoor in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html