WAAROM DIE ROOI SEE? (DAG 4 van 25)

Deur: Benescke Botha

 

'n Sekere Amerikaanse inboorlingstam het reeds vir eeue lank die gebruik dat seuns die nag van hulle dertiende verjaarsdag alleen in 'n digte woud moet deurbring. Dit dien as 'n bewys dat hy nou 'n man is.

 

So het dit tyd geword vir een spesifieke jong seun om sy nag in die woud deur te bring. Met elke geluid het sy nekhare gerys. Met elke dier se roep het dit gevoel asof sy hart 'n slag mis. En telkens moes hy hard veg teen die begeerte om na die naaste dorpie vir sy veiligheid te vlug.

 

Met die eerste sonlig die volgende oggend het die seun verbaas na die figuur 'n entjie weg van hom gekyk. Dit was sy pa met sy geweer wat die heelnag daar gewaak het om seker te maak dat sy seun niks sou oorkom nie!  

 

Besef jy dat dit presies dieselfde vir die Israeliete by die Rooi See was? En ook vandag vir jou?

 

Flits saam met my terug in tyd en ek gee jou 'n vinnige blik deur die geskiedenis. Nadat God die belofte aan Abraham gemaak het dat die land Kanaän aan sy nageslag sal behoort (Genesis 13:12-17), het hy hom ook gewaarsku dat hulle eers 400 jaar in slawerny sal bly? Genesis 15:13: "Weet beslis dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat nie aan hulle behoort nie. Daar sal hulle slawe wees en onderdruk word, vier honderd jaar lank."

 

Het hierdie voorspelling waargeword? Kom ons kyk. Abraham se seun was Isak. Isak se seun was Jakob. En Jakob (wat later as Israel bekend gestaan het) se seun was Josef. Dit is Josef wie se broers hom uit jaloesie aan handelaars verkoop het wat met tyd veroorsaak het dat Josef in die Egiptiese tronk beland het. Hiér het God aan hom die uitleg vir die Egiptiese koning se droom gegee. Die gevolg? Binne een dag is Josef van 'n gevangene tot onderkoning in Egipte bevorder met die taak om te sorg dat genoeg kos gestoor kon word sodat die Egiptenare die voorspelde hongersnood sou kon oorleef. Met die hongersnood in volle swang het Josef se broers na Egipte gereis om kos te kom koop. Hier het hulle voor Josef gebuig - net soos God aan Josef jare vantevore voorspel het. Versoening het tussen die familie plaasgevind en gou het Josef se pa, Jakob (Israel) en sy broers na Egipte getrek. Die eerste Israeliete.

 

Nadat Josef en sy broers egter gesterf het, is 'n nuwe koning in Egipte aangestel. Een wat niks van Josef en sy familie geweet het nie. Toe dié koning sien watter sterk nasie die Israeliete besig was om te word, het hy uit vrees besluit om hulle die slawe van die land te maak. Dit was die begin van die 400 jaar van slawerny - presies soos wat God aan Abraham voorspel het.

 

Toe die 400 jaar verby was, het God vir Moses na Egipte gestuur. Die koning was egter koppig en het geweier om die Israeliete te laat trek. Tien plae het gevolg voordat die koning ingestem het dat die Israeliete kon trek. Bedags het God die Israeliete met 'n wolkkolom gelei en snags met 'n vuurkolom. En nie met die kortpad na die beloofde land nie, maar juis met 'n ompad tot by die Rooi See.

 

Maar waarom? God was besig om sy verhouding met die mensdom te herstel. Hy het daarom nodig gehad om sy almag en karakter opnuut aan hulle te demonstreer. Iets wat ons steeds vandag die beste te midde van 'n krisistyd leer.

 

God het daarom die Egiptiese koning koppig gemaak sodat hy die Israeliete met strydwaens agtervolg het. Toe die Israeliete dit sien het hulle bang geword. Net so bang soos die jong 13-jarige seun in die woud. Tog, luister na Moses se woorde aan die nasie: "Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe God julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg." (Eksodus 14:13)  

 

Moses het sy hand oor die see uitgesteek. 'n Pad het deur die water oopgegaan sodat die Israeliete op droë grond kon deurstap. Die Egiptenaars wat hulle agternagesit het, het almal daardie dag omgekom.

 

Die Rooi See en die woud. 'n Voorbereidingstyd. Vir die jong seun was dit om selfvertroue te bou. Vir die Israeliete was die Rooi See daar om iets van God te krag en getrouheid te leer ken. Tot vandag toe plaas God ons in situasies waarin ons Hom beter kan leer ken. Wat gaan jou reaksie wees te midde van daardie situasie? Gaan jy na Hom uitroep? Onthou, net soos die pa in die woud sal God jou nooit alleen laat nie. Sterkte.

 

Vader God, dankie vir u krag, almag en heerlikheid. Help my asseblief om my vertroue in U te plaas maak nie saak hoe groot die uitdaging voor my lyk nie. Ek vra daarvoor in die Naam van Jesus Christus. Amen.

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html