KAN EK SEKER WEES VAN 'n EWIGE LEWE SAAM MET JESUS? (DAG 25 VAN 26)

Deur: Benescke Botha

 

Susan (nie haar regte naam nie) was al haar lewe 'n kerkganger. By kerkbasaars het haar hande vir niks verkeerd gestaan nie. Sy was een van die aktiefste lede in haar Bybelstudiegroep en het in haar vrye tyd gereeld na die armes en siekes in haar omgewing omgesien. Dit is egter toe iemand op 'n dag vir die 73-jarige Susan vra of daar iets is waarvoor hulle spesifiek vir haar kan bid, dat die trane in haar oë opgewel het. In 'n skor stem het sy deur haar snikke gefluister: "Ek is regtig lief vir God, maar soms wonder ek of ek werklik gered is. Hoe kan ek verseker weet dat ek die ewige lewe saam met Jesus sal beërwe?"

 

Voel jy vandag soos Susan? Jy het reeds tot bekering gekom. Jy probeer om reg te leef. Maar soms kom die twyfelgedagtes wat jou laat wonder of jy regtig die ewige lewe sal beërwe? Hier is antwoorde op vier moeilike vrae:

 

VRAAG 1: Hoe kan ek weet dat daar 'n ewige lewe na die dood is?

  • Johannes 3:16: "God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê..."
  • Johannes 6:39-40: "Dit is die wil van my Vader dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê..."
  • Lukas 23:42-43: "Verder sê hy (die misdadiger langs Jesus aan die kruis): 'Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.' Jesus antwoord hom: 'Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.'"

 

VRAAG 2: Hoe kan ek verseker weet dat ek die ewige lewe sal beërwe?

  • Johannes 3:36: "Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom."
  • 1 Johannes 5:13: "Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo."
  • Johannes 5:24: "Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe."

 

VRAAG 3: Kan ek die ewige lewe verloor?

  • Hebreërs 6: 4-7: "Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot 'n bespotting. Dit is soos met grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val. As dit bruikbare gewasse voortbring vir dié wat dit bewerk, word dit deur God geseën. Maar as dit doringstruike en dissels oplewer, is dit waardeloos en is die tyd naby dat God dit vervloek. Die uiteinde daarvan is die vuur."

 

 

VRAAG 4: Hoe kan ek daardie twyfelgedagtes oorwin?

Omdat die vyand alles in sy vermoë sal doen om jou van jou geloof te laat afsien, is dit belangrik dat jou bekering nie net op emosie gegrond moet wees nie, maar op sekerheid. Met hierdie sekerheid sal jy die vyand se twyfelgedagtes baie makliker kan afweer. Hier is drie pilare waarop jy jou sekerheid kan bou:

1.       Die Woord van God: God se Woord staan vas. As ons dus lees dat ons deur ons geloof in Jesus Christus die ewige lewe beërwe kan ons dit glo.

2.       Die werking van die Heilige Gees: Ervaar jy hoe die Heilige Gees jou daagliks lei? Voor jou bekering lei die Heilige Gees jou om jou eie sondigheid en afhanklikheid van 'n Verlosser te besef. Ná jou bekering lei die Heilig Gees jou om geestelik te groei en met wysheid besluite te neem.

3.       'n Veranderde lewe: Het die onrustigheid wat vroeër met jou verkeerde gewoontes gepaard gegaan het, in 'n vrede en rustigheid verander wat spruit uit jou liefde vir God en jou naaste?

 

In kort: As jy dus in Jesus Christus glo en wat Hy vir jou aan die kruis gedoen het en daarmee saam na die Heilige Gees se stem luister en kies om nie afvallig te raak nie, kan jy vanaand rustig gaan slaap. Sou jy sterf sal jy saam met Jesus in die paradys wees. En wanneer die vyand volgende keer kom om twyfelgedagtes in jou ore te fluister, kyk nes Jesus in die woestyn, reguit in sy oë terwyl jy hom herinner: "Daar staan geskryf: 'Wie in die Seun glo, het die ewige lewe!'" Sterkte.

 

Vader God, baie dankie dat ek met 'n vaste versekering kan weet dat my geloof in Jesus Christus aan my die ewige lewe gee. Help my om daagliks my ore te spits vir die Heilige Gees se stem sodat ek 'n lewe kan leef waarop U kan trots wees. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html