TEKENS VAN DIE VERLOSSER SE KRAG (DAG 13 van 26)

Deur: Benescke Botha

 

"Aaahhhhhh!" Vir 'n oomblik is die silhoeëtte van die besete Bart op die heuwel sigbaar. Weer skree hy hard terwyl hy op sy bors slaan. 'n Dierlike gil wat koue rillings langs elke inwoner van Gadara se ruggraat afstuur. Dan verdwyn Bart terug na die grot waarin hy reeds vir jare lank skuil.

 

Nou die dag het 'n Bart bebloed van die klippe waarmee hy homself gesny het, tot teenaan die gemeenskap gekom. Die mans het hom met pikke en grawe weggejaag. Waar hulle hom vroeër met kettings probeer boei het, het Bart dit eenvoudig afgeruk. Nou probeer niemand meer om hom te beheer nie.

 

Ek wonder hoe Bart se familie moes voel elke keer wanneer hulle sy gille uit die heuwels gehoor het? Het hulle nekhare soos die res van die gemeenskap sin gerys? Of was daar dalk 'n steekpyn van magteloosheid in hulle harte? En hoe het Bart so vol bose geeste geword? Het hy dalk te veel met die okkult geëksperimenteer? Dit weet ons nie.

 

Skielik is daar 'n beweging in die gemeenskap. "Jesus en sy dissipels is hier! Kom gou!" kondig 'n opgewonde vrou aan voordat die mans op die landerye hulle gereedskap laat val en die vroue die wasgoed wat hulle besig was om op te hang net daar los om hulself na die strand te haas. Niemand wil die geleentheid om die Rabbi wat wonderdade doen mis te loop nie.    

 

Maar dan, net soos Jesus uit die boot klim is daar 'n oproer tussen die skare. "Pasop, hier is Bart! Pasop!" skree 'n man voordat die skare mense soos die Rooi See uitmekaar skuif om 'n pad vir die bose Bart oop te maak sodat hy nou tot teenaan Jesus kan stap.

 

Terwyl Bart vinnig asemhaal begin die skuim langs sy mondhoeke afdrup. Uit sy oë straal daar haat. Dit is egter wanneer Jesus sonder vrees of aggressie tot by Bart stap en met outoriteit met hom begin praat dat Bart in 'n bondeltjie op die grond val terwyl 'n bose stem uit hom skree: "Wat het U met my te doen Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U, moet my nie pynig nie!" Steeds met outoriteit praat Jesus nou in 'n rustige stem met die bose gees in Bart: "Wat is jou naam?" Met 'n aaklige stem antwoord die gees nou terug: "Legio. Ons is 'n legio van bose geeste wat in hierdie man woon." Dan kom die verrassing. "Gaan!" Met net een woord verdryf Jesus 'n legioen demone uit Bart tot in die trop varke wat 'n ent daarvandaan op 'n hewel wei.  

 

Flits vir 'n oomblik terug na waar Jesus deur sy neef, Johannes die Doper gedoop word. Nadat die Heilige Gees van God in die vorm van 'n duif op Jesus neergedaal het, lees ons dat die Heilige Gees Hom na die woestyn gelei het om vir 40 dae lank daar te gaan vas en bid. Dit is hier in die woestyn dat Satan probeer het om Jesus te verlei. Elke keer wanneer Jesus die vyand weerstaan het en aan God gehoorsaam gebly het, het sy guns by God en sy outoriteit oor die vyand bly groei. En toe Jesus die woestyn verlaat het, het Hy begin om die profesieë wat Jesaja (740-681 v.C.) in Jesaja 29:18-19 en 35:5-6 gegee het te vervul: Blindes kon sien. Dowes kon hoor. Lam mense kom loop. Kos het vermeerder. En in die vallei van Gadara het Jesus bewys dat Hy met een woord 'n legioen demone uit 'n man kon verdryf.

 

Besef jy dat dieselfde beginsels vandag nog vir ons elkeen geld? Voordat God jou gebruik, kom daar gewoonlik 'n "woestyntyd". Jou tyd van afsondering en voorbereiding. Dit is dikwels in hierdie tyd dat jy getoets word, maar ook waar die vyand sy bes probeer om jou met mooi praatjies te probeer verlei. Soms is dit in die vorm van geld, mag, roem of dalk 'n mooi vrou? Gaan jy soos Jesus die vyand se aanvalle herken en afweer? Gaan jy aan God gehoorsaam bly? Onthou, jou keuses van vandag het 'n direkte invloed op waar jy môre gaan wees. Sterkte.  

 

Vader God, baie dankie dat U, u Seun vir ons gegee het. Jesus dankie vir U voorbeeld wat ek vandag kan navolg. Vader, lei my asseblief deur u Heilige Gees om die vyand se aanvalle te herken en soos Jesus te oorkom. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html