WAT HET REGTIG AAN DIE KRUIS GEBEUR? (DAG 15 van 26)

Deur: Benescke Botha

 

Dis vroegoggend in die groot stad. Min van die inwoners het gisteraand geslaap terwyl hulle in spanning op nuus van die gevegsfront gewag het. Sou hulle hierdie oorlog wen? Sou hulle ooit weer hul geliefdes lewend sien? Dan, net soos die eerste sonstrale deur die wolke begin breek, klink die geskree van 'n boodskapper vanuit die vêrte op: "Ons het die oorwinning behaal. Gou, die koning en die weermag is op pad stad toe! Kry alles gereed!"

 

Dit neem nie lank voordat die inwoners na die strate stroom om met opgewondenheid op hulle koning en die weermag te wag nie. Sodra die weermag (met die geboeide soldate van die vyand in die middel van hulle) die stadspoorte oorsteek klink 'n gejuig op tussen die skare. Niks kom egter by die oorverdowende applous wanneer die koning self, gevolg deur die vyand se koning in boeie deur die stadspoorte stap. Buiten vir die feit dat hierdie openbare bespotting deur die eeue elke keer vir die vyandige koning 'n geweldige vernedering was, was dit ook 'n bewys dat hy en sy weermag totaal magteloos teenoor hulle oorwinnaars gestaan het...

 

Flits nou saam met my terug in tyd na daardie Vrydagmiddag op die heuwel van Golgota. Kan jy die gelag van die soldate hoor waar hulle nou onder die kruis met 'n dobbelsteen die middelste Man aan die kruis se klere onder hulle verdeel? Kan jy die snikke hier en daar uit die skare hoor van mense wat steeds geskok na hulle Heer en Meester aan die kruis staar? Vars bloed syfer uit sy wonde waar 'n doringkroon vroeër in sy kop ingedruk is voordat hulle sy rug met die gesel onherkenbaar vermink het.

 

Jou hart klop vinnig. Jy wil na die soldate uitskree dat hulle 'n fout maak. Kan hulle dan nie sien WIE hierdie man aan die kruis is nie? Het hulle die woorde van die profete vergeet? Dan slaan die horlosie 3 uur en jy hoor Jesus se desperaat uitroep:  "Eloï, Eloï, lemá sabagtani?" (My God, my God, waarom het U My verlaat?) Terwyl Jesus se kop sak soos Hy sy laaste asem uitblaas, klink 'n donderslag op. 'n Aardbewing volg. En dan, soos die skreeuende skare verwilderd begin skuiling soek, skeur die voorhangsel voor die Allerhoogste in die tempel van bo na onder.

 

Dit is wat in die sigbare wêreld gebeur het. Maar wat het op daardie oomblik in die geestelike, onsigbare wêreld met Jesus se siel en gees gebeur?

 

Kolossense 2:14-15: "Hy (Jesus) het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer."

Deur Jesus se kruisdood het Hy nie net as die vlekkelose Lam al ons sondes op Hom geneem om in ons plek te sterf nie (Hebreërs 9:11). Jesus het ook die hel, die vyand en al sy demone oorwin om God se verlossingsplan uit te voer en die skeuring wat na die sondeval in die Tuin van Eden in die verhouding tussen God en die mens gekom het, weer te herstel (Kolossense 1:20).

 

Kan jy jouself indink watter oorverdowende applous daardie Sondagoggend in die hemel moes losbars toe Jesus voor die geboeide Satan en sy demone oor die hemelpoorte gestap het? Hulle was sy gevangenes in sy triomftog deur die hemel se strate. Jesus het die dood oorwin. Hy het sy lewe opgeoffer om jou van jou sonde vry te koop. Vandag kan jy met vrymoedigheid na God se troon gaan. Wat maak jy met daardie geskenk? Sterkte.

 

Vader God, ek staan sonder woorde om u te bedank vir u liefde en verlossingsplan wat U deur Jesus bewerkstellig het. Dankie Jesus, dat U my ingedagte gehad het toe U die pyn aan die kruis verduur het. Vader, help my asseblief om vandag in oorwinning te leef sodat U op my sal trots wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html