WAAROM DIE TIEN GEBOOIE? (DAG 5 van 25)

Deur: Benescke Botha

 

Ek hoor nou die dag hierdie storie:

 

Toe Bennie een oggend vroeg uit die stort klim, tref dit hom. Half geskok staan en kyk hy in die badkamerspieël na sy boep, sy bene vol selluliet en sy pap arms. Met min oefening het hy sy vorm verloor. Steeds half geskok stap Bennie na werk by die gimnasium in om vir hom 'n persoonlike oefeninstrukteur te kry. Hy besluit ook om sy dieet van gaskoeldrank en wegneemetes na water, hoenderborsies en gestoomde groente aan te pas. Na 'n geruime tyd van hierdie nuwe, aangepaste leefstyl klim Bennie weer een oggend vroeg uit die stort. Die keer was daar 'n breë glimlag op sy gesig. Hy was tevrede met die topvorm waarin sy liggaam weer was.   

 

Was dit die spieël wat vir Bennie weer in topvorm gekry het? Natuurlik nie. Tog het daardie badkamerspieël vir Bennie laat besef hoe uit vorm sy liggaam regtig was, reg? Net so het God die Tien Gebooie aan die Israeliete gegee om hulle te help om hulle geestelike vorm voor God te laat besef.

 

Flits vir 'n oomblik saam met my terug na die voet van die Sinaiberg. Dis die jaar 1446 v.C. Kan jy die sowat twee miljoen Israeliete sien wat daar vergader staan? Op sommige gesigte in die skare is daar 'n uitdrukking van afwagting. Op ander, vrees. Wat sou hier op hulle wag? Vir die afgelope drie dae moes  hulle, hulself reinig. Enige mens of dier wat per ongeluk aan die Sinaiberg geraak het in hierdie tyd moes met klippe doodgegooi word. Nou het die tyd aangebreek. Hulle het gekom om hierdie God wat hulle as sy nasie uitgekies het, te kom ontmoet.  

 

Sien jy die ouerige man met die kierie wat effens voor die nasie gaan staan? Dit is die 80-jarige Moses. Die man wie God gekies het om die Israeliete uit Egipte te lei. Kan jy hoor hoe die skare nou stil word terwyl elke Israeliet in verwondering na die donker wolk kyk wat laag, amper onheilspellend oor die bergtop kom hang het? Skielik volg 'n donderslag. Dan blitse en 'n helder trompetgeskal voordat 'n helder stem uit die wolke met die Israeliete praat: "Israel, Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Julle mag naas My geen ander gode hê nie. Julle mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Julle mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie..." (Eksodus 20:2-7).

 

Min van die Israeliete bly staan. Die meeste lê op hulle gesigte en bewe voor hierdie almag van God. Sommige roep nou beangs na Moses om eerder namens God met hulle te praat omdat hulle nie voor hierdie krag kan staande bly nie. Moses se antwoord? Eksodus 20:20: "Israel, luister na my. Julle hoef nie bang te wees nie. God het homself só aan julle openbaar sodat julle sy grootheid kan ken en sodat julle Hom sal respekteer en nie sonde sal doen nie..."

 

Maar waarom hierdie skouspel van God se krag en almagtigheid? Onthou, God was besig om sy verhouding met die mensdom te herstel. Hy moes hulle opnuut leer wie Hy is. By die Rooi See het Hy aan hulle sy krag gedemonstreer. Hier by die Sinaiberg was God besig om sy heiligheid aan die Israeliete te openbaar. Ook hoe ernstig sonde in sy oë is. Die enigste manier hoe hulle die skade van sonde sou verstaan is as hulle in God se spieël van heiligheid sou kyk. God het die Tien Gebooie as hierdie spieël vir die Israeliete gegee.

 

Dink vir 'n oomblik terug aan Bennie met sy boep. Besef jy dat al raak ons soms ook uit vorm met ons geestelike lewe, ons vandag die Heilige Gees as ons oefeninstrukteur het om ons te lei. Die gesonde kos wat Bennie geëet het, vind ons vandag deur ons daagliks met die Woord van God te voed. En net soos Bennie weer in topvorm gekom het deur sy oefenprogram getrou te volg, kan ons ook, deur daagliks in geloof te leef en te streef daarna om meer heilig te word.  

 

Voel jy vandag soos Bennie met 'n boep? Wat in jou lewe moet end kry? Gaan jy kies om dit te stop juis uit liefde en respek vir God? Sterkte.

 

Vader God, baie dankie vir U ontsaglike liefde vir ons mense. Help my asseblief om vandag om deur u Heilige Gees se leiding daarna te streef om heilig voor U te staan. Ek bid daarvoor in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html