WEES LIEF VIR GOD, WEES LIEF VIR MENSE? (DAG 22 VAN 26)

Deur: Benescke Botha

 

Dit was 'n koue winternag toe Rudolf huis toe ry. By die laaste verkeerslig voordat hy sy huis bereik, het hy die klein vuil dogtertjie met die verslete bord sien staan wat vir kos en geld gebedel het. Met die yswind wat deur haar dun hempie gesny het, het haar tande behoorlik opmekaar geklap. Hoewel Rudolf niks vir haar gegee het nie, het haar beeld in sy kop bly brand totdat hy later by sy huis voor die heerlike warm bord kos ingeskuif het. Onmiddellik het hy half kwaad tot God gebid: "Here, as U dan 'n God van liefde is, waarom is daar mense soos daardie klein dogtertjie wat vanaand koud en honger op die straat moet staan? Waarom doen U niks daaraan nie?" Onverwags het God hom onmiddellik teruggeantwoord: "Maar Rudolf, ek het. Het ek jou dan nie geskape nie?"

 

Flits nou saam met my terug in tyd na waar die Fariseërs en skrifgeleerdes Jesus op die markplein met 'n strikvraag probeer vastrek: "Meneer, wat is die grootste gebod in die wet?" Dan volg Jesus se antwoord: "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: 'Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.' In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat" (Matteus 22:34-40).

 

Wees lief vir God, wees lief vir mense. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.

 

  • 1 Johannes 3:17,18: "Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie - hoe kan die liefde van God in hom wees? Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid."

 

  • 1 Johannes 3:23-24: "En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus glo en ons moet mekaar liefhê... Wie sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom."

 

  • 1 Johannes 4: 7-8: "Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde."

 

Is daar mense in jou omgewing, jou werkplek of selfs in jou huisgesin wat vandag fisies of emosioneel swaarkry? Besef jy dat jou liefde vir God juis gedemonstreer word wanneer jy as sy instrument na daardie mense uitreik? Kan ek jou daarom vandag uitdaag om doelbewus jou oë vir geleenthede oop te hou waar jy God se hande en voete vir jou naaste kan wees. Sterkte.

 

Vader God, baie dankie vir U liefde vir my. Help my om my liefde vir U te demonstreer deurdat ek na my naaste uitreik en aan hulle liefde betoon. Wys my asseblief waar U my vandag as U instrument benodig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html