WAT IS JOU KEUSE? (DAG 7 van 25)

Deur: Benescke Botha

 

Daar is 'n harde slag. Skielik word dit swart voor jou. Waar jy oomblikke later jou bewussyn herwin kan jy 'n helikopter êrens bokant jou hoor vlieg. Jou hart begin vinnig klop sodra jy besef dat die helikopter hier is om jou te red. Wat het gebeur? 'n Harde kraakgeluid volg. Dan tref dit jou. Jy was in 'n ongeluk en jou kar het pas nog 'n paar sentimeters vorentoe geskuif waar dit oor die brug hang. Langs jou veg die noodwerkers nou verbete om te verhoed dat jou kar na die water doer onder tuimel nie.

 

Skielik is daar 'n oproer tussen die omstanders. "Kyk daar!" skree 'n vrou. "Daar oorkant teen die gebou. Dit is dan... SPIDERMAN!" Soos 'n wafferse akrobaat gly hierdie fiksie karakter aan sy tou vorentoe tot reg bokant jou. Met sy een hand steeds styf aan die tou, strek hy nou met sy ander hand ondertoe om jou uit jou kar te trek - oomblikke voordat jou kar na die donker rivier tuimel. 'n Luide applous bars los. Jy is veilig en die fiktiewe Spiderman, die held van die dag.

 

Desperate oomblikke reg? Kom nou saam met my terug in tyd. Nadat Moses vir Josua as die leier van die Israeliete aangewys het, het hy die Israeliete suksesvol in Kanaän ingelei en op bevel van God, 6 van die ongelowige nasies en 31 konings voor hulle uit die streek uitgedryf. God was besig om 'n heilige nasie te bou waardeur Hy later sy verlossingsplan wou bewerk.

 

Het die Israeliete dit so verstaan? O, nee. Na Josua se dood het hulle van God se waarskuwing in Deuteronomium 31:19 aan hulle voorouers vergeet: "Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe."Met hierdie woorde het God aan die Israeliete bewys dat Hy 'n regverdige regter is. Net soos regte keuses seëninge inhou, sal verkeerde keuses, verkeerde gevolge inhou.

 

Sonder 'n leier het die Israeliete begin doen wat reg was in hulle eie oë en teen God se waarskuwing met die ongelowige volke in die land begin meng. 'n Verkeerde besluit met slegte gevolge. Dit is hier waar 'n patroon begin het wat homself 12 keer deur die boek van Rigters herhaal.

 

Sodra die Israeliete van onder God se beskerming uitbeweeg, het God toegelaat dat van die omringde volke die Israeliete aanval en wen. Dan, wanneer die Israeliete besef het dat hulle op die randjie van verwoesting staan (net soos die kar wat oor die brug gehang het), het God uit liefde 'n rigter gestuur wat namens God met die volk kom praat. Dink maar aan mense soos Otniël, Simson, Debora, Gideon en Samuel. Dit is hierdie mense wat die volk aan hulle keuse kom herinner het: Lewe of dood.

 

Die Israeliete het dan hulle sondes bely en van hulle sondes weggedraai, net om weer later sodra dit beter gaan in dieselfde strik te trap met die verwoesting wat telkens erger geword het.

 

Dit laat mens wonder hoe die Israeliete nie uit die geskiedenis kon leer nie. Het hulle voorouers hulle nie van die Rooi See, die Sinaiberg en selfs die val van die stad van Jerigo se mure vertel nie? Tog, is dit nie presies wat ons ook deesdae doen nie? Ons raak so besig met 'n projek by die werk of met ons gesinne of vriende. Voor ons onsself kan kry, het ons weke laas stiltetyd gehou. Skielik irriteer ons kollegas ons en ons wonder hoekom. Of skielik werk jou geldsake nie reg uit nie. Of dalk het jy 'n onrustigheid binne jou hart wat net nie wil verdwyn nie. Is dit dalk die Heilige Gees wat soos 'n rigter aan jou hart se deur kom klop?   

 

Onthou, God is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde. Met ware berou is daar by Hom altyd tweede kanse. En as jy Hom aanroep sal Hy jou red - lank voordat jy in die donker afgrond aftuimel. Sterkte.

 

Vader God, dankie vir u geduld en regverdigheid. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om daagliks die regte keuses te maak. Ek bid daarvoor in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html