HET JESUS 'n KEUSE GEHAD? (DAG 14 van 26)

Deur: Benescke Botha

 

Jy sit alleen op die harde bankie in die koue, nat en donker tronksel. Terwyl die stank van die sel jou neusholtes bereik weergalm die woorde van die regter van vroeër die dag weer deur jou gedagtes: "Skuldig!" 'n Harde hamerhou op die plank het gevolg terwyl die horlosie jou laaste 24 uur op aarde begin aftel het. In jou land word moordenaars met die elektriese stoel tereggestel en vandag is dit jou beurt.

 

Die spanning in die dodeselle waar jy wag is tasbaar. Skielik klink die laksman se voetstappe op. Wie gaan hy volgende kom haal? "Nee! Nee! Nee!"Dit is die man in die sel reg langs jou. Desperaat pleit hy om genade. Die laksman ken geen. Sy seldeur klap. Dan nog 'n deur en soos sy gille in die verte verdwyn, begin jou hart weer vinniger klop. Jy weet jy is volgende. Vir 'n oomblik flits jou lewe voor jou verby. Jy sien jouself saam met jou familie in gelukkiger tye. Jy sien al jou suksesse. Maar dan flits jou gedagtes na jou pa se trane toe hy jou vroeër vandag in die hof gegroet het. Julle beide het geweet dit is die einde van die pad.

 

Die laksman se voetstappe ruk jou terug na die werklikheid. Jou hart klop nou in jou keel. Jou mond is droog terwyl 'n koue sweet oor jou hele liggaam uitslaan. Die tyd het aangebreek. Jy sluit jou oë en hou jou asem op terwyl jy wag dat die laksman jou sel se deur moet oopruk. Dit gebeur nie. Die laksman stap verby jou sel na die persoon langs jou.

 

Jy is ontsteld. Jy skree uit na hom. "Kom haal my! Vat my weg! Ek kan nie langer hierdie spanning hanteer nie!" Die laksman draai vir 'n oomblik na jou. "Wat is jou naam?"Jy gee hom jou naam. Hy frons terwyl hy weer na die lys name op sy lys kyk. "Dit kan nie wees nie." Jy raak kwaad. "Wat kan nie wees nie?" Hy wys met sy vinger na die bladsy. "Kyk, ek het nounet iemand met daardie naam tereggestel." Geskok kyk jy na hom. "Wat?" Die laksman draai weg om vir jou die foto te bring wat hulle van elke gevangene neem voordat hulle tereggestel word. Terwyl hy die foto in jou hand druk mis jou hart 'n slag. Op die foto glimlag 'n man na jou en terwyl die trane teen jou wange afstroom prewel jy in 'n fluisterstem: "Dit is dan... Dit is dan Jesus!" Die laksman sluit jou sel se deur oop. "Hy het in jou plek gesterf. Jy is vry," sê hy. "Jy kan maar huis toe gaan."

 

Flits vir 'n oomblik 2,000 jaar terug in tyd. Kort voor middernag kniel 'n man in die tuin van Getsémané. Dit is sy ernstige gebed wat jou aandag trek: "Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg." Dit is wanneer jy sien hoe sy sweet nou in bloeddruppels verander waar dit nou op die grond drup dat jy besef dat hierdie man doodsangs beleef. Jy skuif nader en wat jy hoor tref jou diep. "Vader, laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!" Êrens op die agtergrond slaap hierdie man se dissipels. En nie vêr daarvandaan nie oorhandig 'n groep skrifgeleerdes nou 'n sak met 30 silwermuntstukke aan Judas Iskariot. Dit is betaling om hierdie Jesus uit te verkoop.

 

Het Jesus geweet wat op Hom wag? Kon hy weghardloop en gaan wegkruip en weier om die lydensbeker te drink? Luister na Jesus se woorde in Johannes 10:17-18 'n geruime tyd voor hierdie aand in Getsémané: "Die Vader het My (Jesus) lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het."

 

Dit is uit liefde dat Jesus bereid was om sy lewe neer te lê sodat elkeen van ons 'n tweede kans kon kry om ons verhouding met God te herstel. Wanneer laas het jy vir God dankie gesê vir sy Verlossingsplan? En wanneer laas het jy 'n punt daarvan gemaak om 'n lewe te leef waarop Jesus kan trots wees? Vandag is jou kans. Sterkte.

 

Vader God, baie dankie dat U aan ons 'n tweede kans gegee het om voor U te staan. Jesus, help my om nooit te vergeet hoe belangrik hierdie opoffering van U vir my was nie. Help my om vandag in oorwinning te leef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html