DAAGLIKSE STRYD TEEN DIE BOSE? (DAG 20 VAN 26)

Deur: Benescke Botha

 

Drie uur daardie oggend kort na hulle troue het Gerrit en Carina 'n geraas by die voordeur van hulle kothuis in Houtbaai gehoor. Gerrit het opgestaan om te gaan kyk. Dit is toe Carina oomblikke later 'n gestoei by die voordeur hoor dat sy in haar kort nagrokkie by die oop kamervenster uitgespring het om by die landheer se huis te gaan hulp soek.

 

Terwyl Carina verwoed aan die voordeur hamer, het die inbrekers Gerrit net daar gelos en haar agtervolg. Dit is toe Carina meteens 'n sterk gevoel in haar binneste kry om te draai dat sy vaskyk in die eerste inbreker. Skaars 'n armlengte weg van haar het hy met 'n lang, ysterstaaf in sy hand gestaan, gereed om haar in die rug te steek.

 

Meteens het Carina die krag en teenwoordigheid van God ervaar terwyl sy haar vinger reguit na die aanvaller uithou en hardop skree: "In the Name of Jesus Christ, you will not touch me!" Met 'n uitdrukking van totale skok het die man dadelik sy wapen laat sak.

 

Skielik was die twee ander inbrekers ook nou reg langs die eerste man. Weer het Carina haar vinger na hulle uitgesteek en haar eie stem hoor skree: "In the name of Jesus Christ you will not touch me." Ook dié het skielik in hulle spore gevries terwyl daar 'n uitdrukkings van skok en vrees op hulle gesigte verskyn het. Dit was nie lank of al drie het omgedraai en weghardloop.

 

Gerrit is na die hospitaal gehaas waar sy wonde van die aanvallers se metaalstawe behandel is. Toe die paartjie later die dag by die huis kom het hulle 'n oproep van 'n vriend uit Pretoria, Willem gekry met die woorde: "Ek het gisteraand 'n baie ontstellende droom van hulle twee gehad." In Willem se droom het Carina en Gerrit deur 'n stuk oop veld gestap toe drie bosvarke vanuit nêrens op hulle begin afstorm. Net voordat die bosvarke hulle kon oorrompel het Willem wakker geskrik en vurig vir hulle beskerming begin bid. Die tyd? Drie uur daardie oggend. Die uur van die aanval.

 

Die polisie het die jong aanvallers later vasgetrek. Die aanval was bendeverwant en die mans het gekom om Carina te verkrag.

 

Hierdie storie het my opnuut aan Jesus se woorde in Lukas 10:19 herinner:"Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie." Dit is deur Jesus se kruisdood dat ons vandag die outoriteit het om oor die bose te heers? Wanneer jy dus "in die Naam van Jesus Christus" bid of die bose "in die Naam van Jesus Christus" beveg, is dit asof Jesus dit doen.

 

In Psalm 91:11 lees ons: "God se engele sal jou omring wanneer Hy vir hulle sê om dit te doen. Die Here sal jou veilig in sy hand vashou sodat jy nie seerkry nie." En in 2 Konings 6:15-17 lees ons van 'n groot weermag wat die profeet Elisa en sy slaaf wou oorrompel. Luister weer na hoe Elisa in geloof met sy slaaf praat: "'Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.' Toe bid Elisa: 'Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.' Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur." Die weermag kon daardie dag niks aan Elisa en sy slaaf doen nie.

 

Ek kan nie help om te wonder wat die drie aanvallers daardie nag in Houtbaai beleef het nie. Het God dalk ook hulle geestesoë oopgemaak sodat hulle sy engele langs Carina kon raaksien? Mag jy vandag rustig wees met die wete dat ons as kinders van God nooit alleen is nie. Sy engele is reg langs ons. Sterkte.

 

Vader God, dankie dat ek kan weet dat U my beskermer is. Dankie, Jesus vir die outoriteit en krag wat in U Naam bestaan. Help my asseblief om daardie outoriteit reg te gebruik. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html