WAAROM AL DAARDIE OFFERS? (DAG 6 van 25)

Deur: Benescke Botha

 

Kom vir 'n oomblik saam met my terug in tyd na die Sinaiwoestyn. Dit is rondom 1446 v.C. Kan jy die gebulk van die beeste hoor? Kan jy die reuk van die brandoffers ruik? Maar vir wat staan al hierdie mense reeds van vroegoggend af in die ry voor die tabernakeltent? Met die konsep van genade nog nie deel van hulle woordeskat nie, het hulle gekom om offers vir hulle sondes voor God te bring.

 

Maar waarom die offers? Wat is nou eintlik die betekenis daarvan? En as die Bybel waar is, hoekom bring ons nie meer vandag daardie offers nie?

 

REËLS VIR DIE OFFERS: In Levitikus 1 word streng reëls vir die offers uitgestippel. Elke dier wat gebring is om geoffer te word, moes vlekkeloos wees. Die persoon wat die dier gebring het, sou dan sy/haar hand op die dier se kop sit as 'n simboliese teken dat die dier namens hom/haar sterf. Dit is elke keer wanneer die dier se bloed gevloei het dat die Israeliete besef het hoe duur hulle sonde hulle te staan sou kom. Die hoëpriester moes ook elke jaar eenmaal in die allerhoogste van die tabernakel ingaan om namens die Israeliete 'n offer te bring wat die nasie van sonde kon reinig.

 

WAAROM DIE OFFERS? Met die sondeval het daar 'n skeuring gekom in die verhouding waarvoor God ons met Hom geskape het. Tog het God reeds 'n verlossingsplan in gedagte gehad nog voordat hy Adam en Eva uit die tuin verwerp het. 'n Plan wat God opnuut met die mens sou versoen. Maar voordat God se verlossingsplan in volle swang kon kom, moes hy homself van voor af aan die mens openbaar sodat hulle die impak van hulle sonde en ook die waarde van die verlossingsplan sou verstaan en waardeer.

 

Hierdie nuwe verhouding het met Abraham begin. Deur Isak en Jakob is dit voortgesit tot waar Moses die Israeliete uit Egipte gaan bevry het. Met die tien plae in Egipte en die redding by die Rooi See het God sy wonderwerkende krag aan Israel gedemonstreer. By die Sinaiberg met die Tien Gebooie het God sy almag en heiligheid aan die mens gedemonstreer. En toe God aan Moses die uitleg van die tabernakeltent gegee het en ook die reëls van die verskillende offers, was God besig om aan die volk die koste van sonde te demonstreer. Besef jy dat alles wat God regdeur die eeue gedoen het 'n voorbereiding was vir sy finale verlossingsplan sowat 1446 jaar na die tabernakel?

 

Flits weer na die Israeliete in die woestyn. Sien jy die lang ry voor die tabernakel? Flits nou na 1446 jaar later. Sien jy die Man aan die kruis op Golgota? Die vlekkelose Lam. Die man wat uit liefde namens ons aan die kruis hang?

 

Hebreërs 9:11: "Jesus het vir ons die hoëpriester geword wat ware versoening bewerk het. Hy het in die hemelse tempel ingegaan wat soveel groter en beter is as enige tempel wat mense ooit kan bou. En dit was nie beeste en bokke se bloed wat hy daar ingeneem het nie, maar sy eie bloed. Juis hierom het Jesus nodig gehad om net eenmaal in God se heiligdom in te gaan om vir ons ewige verlossing te verkry."

 

Besef jy dat God 'n God van liefde is? Alles wat Hy nog ooit gedoen het, is gedoen omdat Hy ons as mense liefhet. En besef jy dat die kruis die koms van genade aangekondig het? Wanneer laas het jy vir God dankie gesê vir sy liefde? Sterkte.

 

Vader God, dankie vir U liefde en genade vir my. Lei my asseblief daagliks deur U Heilige Gees om meer heilig te word. Ek bid daarvoor in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html