IS JY 'N LEWENDE OFFER VIR GOD? (DAG 18 van 26)

Deur: Benescke Botha

 

Vroegoggend het die groep teologiestudente buite die begraafplaas saamgedrom. Vir wat het hulle lektor, die bekende teoloog D.L. Moody (1837-1899) hulle hierheen laat kom? Daar was 'n breë glimlag op Moody se gesig toe hy oomblikke later by hulle aansluit. Ongeërg het hy die geroeste hekkie na die begraafplaas oopgestoot en die studente na een van die grafte in die middel van die begraafplaas gelei.  

 

"Goed," het Moody begin terwyl hy met sy een hand na 'n graf in die begraafplaas wys. "Daar lê meneer T.R Jones." Die studente het na die graf van die onbekende man gedraai. "Ek wil hê julle nou vir Meneer Jones sal slegsê." Vir 'n oomblik het die studente huiwerig na mekaar gekyk. Wie sou die eerste belediging uiter? Dit het egter nie lank geneem voordat die beledigings soos koeëls op die graf neergereën het nie: "Jy is aaklig!"; "Jy is sleg!"; "Jy is 'n nikswerd!". Met 'n glimlag het Moody die groep studente stilgemaak. "Ek wil nou hê dat julle Meneer Jones sal komplimenteer." Die keer het die studente makliker deelgeneem: "Jy is intelligent!"; "Jy is aantreklik!"; "Jy het 'n mooi hart!" Weer het Moody hulle na 'n rukkie stilgemaak.

 

"Wat het dit vir Meneer Jones beteken toe julle hom beledig het?" Een van die studente het uitgeroep: "Wel, niks nie." Moody het geknik. "En wat het dit beteken vir Meneer Jones toe julle hom met komplimente oorval het?" 'n Ander student het nou uitgeroep. "Ook niks nie." Moody het weer geknik voordat hy uit sy oopgeslaande Bybel vir hulle uit Romeine 12:1 begin lees: "Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen."

 

Toe Moody opkyk het hy reguit na die student gekyk wat vroeër daardie week in die klaskamer gevra het wat dit dan beteken om 'n "lewende en heilige offer" vir God te wees. Die student het geglimlag. Hy het nou verstaan dat wanneer jy 'n lewende offer vir God word, mense se komplimente en beledigings net so min vir jou beteken as wat dit vir Meneer Jones in die begraafplaas beteken het. Al wat vir jou belangrik word, is jou reputasie in God se oë. Is Hy met jou lewe tevrede? In Romeine 12 gee Paulus ses stappe van hoe ons elke dag kan kies om 'n "lewende offer" vir God te word:

 

Stap 1: VERNUWE JOU GEDAGTES

Romeine 12:1: "Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is." Is jou gedagtes met negatiewe of geesgeïnspireerde gedagtes gevul?

 

Stap 2: KIES NEDERIGHEID

Romeine 12:3: "Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het."

 

Stap 3: ONTDEK JOU GAWE EN LEEF DIT UIT

Romeine 12: 4-9: "Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het." Het jy 'n gawe om te profeteer? Om ander te bemoedig? Om die Woord van God te verkondig? Om na siekes en diegene in nood uit te reik? Om leiding te neem? Doen dit dan, want dit is waarvoor God jou in sy liggaam op aarde geplaas het.

 

Stap 4: HOU JOU MOTIEWE SKOON 

Romeine 12:8: "As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid. Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is." Reik jy uit in liefde sonder bybedoelings?  

 

Stap 5: VERGEWE EN SEËN JOU VERVOLGERS

Romeine 12:12,15-16, 19-20: "Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur... Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: 'Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,' sê die Here... As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte." Neem jy self wraak of laat jy dit aan God oor?

 

Stap 6: STREEF NA EENHEID

Romeine 12: 18, 21: "Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sovêr dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie." Is jy 'n vredemaker in jou huis, jou werkplek en jou kerk? Of is jy iemand wat rusies aanblaas?

 

Vernuwe jou gedagtes. Kies nederigheid. Ontdek jou gawe en leef dit uit. Hou jou motiewe skoon. Vergewe en seën jou vervolgers. Streef na eenheid. En kies daagliks om 'n lewende offer vir God te word! Sterkte.

 

Vader God, baie dankie dat U my liefhet. Lei my asseblief daagliks deur u Heilige Gees om 'n lewende offer vir U te word. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html