DIEN JY HOM UIT PLIG OF UIT LIEFDE? (DAG 16 van 26)

Deur: Benescke Botha

 

Dit was 'n warm dag toe die mense op 'n markplein in Amerika vergader vir die vandisie van slawe. Die slawehandel was steeds in volle swang. Vanaf die verhogie waarop hy gestaan het, het een van die slawe met 'n hart wat vinnig klop oor die skare mense gekyk. Daar was baie buitelanders in die skare. In sy hart het hy geweet dat sou een van hulle hom koop, hy van sy gesin sou moes afskeid neem en dat hy hulle heel moontlik nooit weer sal sien nie. Sy hart het gepyn. Wat sou vir hom voorlê?

 

Die gebie op hierdie spesifieke slaaf het begin. Dit was nie lank voordat een van die buitelanders voorgeloop het nie. Binne die slaaf het die spanning nou breekpunt bereik. Hy moes dit stop. Uit desperasie het die slaaf nou op die buitelander begin skree en vloek: "Jy maak 'n fout. As jy my koop sal ek nooit vir jou werk nie! Ek sal die slegste slaaf nog vir jou wees! As jy my koop sal ek jou probeer doodmaak!"

 

Die buitelander het egter aangehou om met elke teenaanbieding 'n hoër bod op die slaaf in te sit. Dit is wanneer die afslaer na die buitelander wys en uitskree: "Bod toegestaan," dat die slaaf magteloos op sy knieë neerval. Terwyl trane oor die slaaf se wange stroom het die buitelander op die agtergrond die geld aan die afslaer oorbetaal en sy koopbrief ontvang voordat hy na die slaaf begin stap het.

 

Op hierdie punt het die skare nuuskierig nader gestaan om te kyk hoe hierdie buitelander sy nuwe, rebelse slaaf vir sy optrede sal straf. Die buitelander het voor die slaaf gaan staan. Terwyl die slaaf regop kom het hy die koopbrief tot almal se verbasing aan die slaaf oorhandig met die woorde: "Hier, vat dit. Jy is van vandag af 'n vry man."

 

Oorbluf het die slaaf reguit na die buitelander gekyk. Met vars trane wat nou oor sy wange gestroom het, het hy begin praat: "Meneer, noudat ek vry is, sal ek vir u werk en gaan net waar u wil hê. U huis sal my huis wees, u belange my belange, u eer my eer en u wense my bevele. Van vandag af behoort ek aan U."

 

 

Flits vir 'n oomblik saam met my terug in tyd na die Sinaiberg. Kan jy sien hoe die Israeliete onder die berg saamdrom in afwagting dat Moses aan hulle die Tien Gebooie op die kleitablette moet voorlees? Tien gebooie wat aan die Israeliete God se heiligheid moes demonstreer en aan hulle moes uitwys hoe sondig hulle in God se oë staan en hoe nodig hulle 'n Verlosser gehad het. Dit was die ou-bedeling onder die wet.

 

Met Jesus se kruisdood het 'n nuwe bedeling onder genade aangebreek. Luister na Johannes se woorde in Johannes 1:17: "God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom." Ook Paulus skryf in Romeine 6:14: "Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade."

 

Net soos die slaaf op die markplein vrygekoop is en daarna uit vrye keuse sy eienaar gevolg het, het Jesus ons deur sy kruisdood vrygekoop. Onder genade kies ons dus om Hom te volg omdat ons hom liefhet en nie bloot omdat ons bang is dat Hy ons sal straf nie. Beteken dit dat ons nou kan sondig soos ons lus kry?

 

Luister na Paulus se antwoord in Romeine 6:15-16: "Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie. Julle weet tog: as julle, julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe."

 

Hoewel die wet heilig, regverdig en rein is, kan dit ons nie heilig, regverdig of rein maak nie. Net Jesus kan. Deurdat Hy die wet en die profete in vervulling gebring het, het Hy die reg gehad om ons van ons sondes vry te koop. Vandag staan die wet nie op kleitablette geskrywe nie, maar op ons harte (2 Kor. 3). Ons volg Hom dus nie uit plig nie, maar omdat ons Hom liefhet. Het jy Hom werklik lief? Sterkte.

 

Vader God, baie dankie vir u verlossingsplan vir my. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om te verstaan wat u genade vandag vir my beteken en help my om met voluit onder die nuwe bedeling te leef. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html