IS JY DEEL VAN DIE BRUID? (DAG 24 VAN 26)

Deur: Benescke Botha

Jy stap deur 'n donker kamer tot by die lig wat onderdeur die deur na jou wink. Voor die deur huiwer jy vir 'n oomblik voordat jy die deurknop draai en die deur dan vorentoe oopstoot. Buitekant snak jy na jou asem. Wat jy voor jou sien is terselfdertyd buitengewoon mooi, maar ook afskuwelik aaklig.

Aan jou linkerkant hang 'n duistere wolk wat 'n koue rilling langs jou ruggraat laat afskiet. "Demone, maak gou! Kom hier!" hoor jy die bose, skril stem van Satan wat nou opdragte na sy demone bulder. "Tyd is besig om uit te loop. Ons sal baie vinniger moet werk! Gaan oor die aarde. Breek huwelike op. Mislei die mense. Verblind hulle vir die boodskap van Jesus. En die jongmense? Steel hulle siele! Toe, weg is julle!" Die vrees in Satan en sy handlangers se oë verklap dat hulle almal besef dat die uurglas besig is om leeg te loop.

Jy draai nou na jou regterkant. Weer snak jy na jou asem. Nog nooit het jy so 'n mooi bruid of trourok gesien nie. Waar die bruid op 'n kristal pedestal staan en opkyk na die helder lig wat van bo-af op haar skyn, skitter die pêrels, robyne en diamante wat delikaat op die spierwit rok vasgewerk is. Dit is dan jy die Heilige Gees reg langs die bruid sien wat saggies vir haar fluister: "Moenie afkyk nie. Kyk boontoe! Hou jou oë gevestig op die lig!" Vir 'n oomblik draai die bruid haar kop weg grond toe terwyl daar swart kolle oral op haar rok verskyn. Dit is egter wanneer sy weer boontoe kyk en hierdie kolle verdwyn dat jy die woorde van die Heilige Gees begin verstaan.

Maar waarna kyk die bruid? Jy draai jou kop na waar die lig vandaan kom. Die keer mis jou hart 'n slag. Aan sy hande en voete is sy kruiswonde duidelik. Opgewonde wil jy uitroep: "Dit is dan Jesus, die Bruidegom!" In wit en silwer geklee staan Hy met 'n glimlag op sy gesig. Sy oë is sag. Sy liggaamshouding gereed. Agter hom wag die legioen van engele reeds met gespreide vlerke en trompette in die hande! Hulle is gereed om terug te kom.

"My Vader, hoe lank moet ek nog wag?" hoor jy nou hoe Jesus se soet stem deur die hemelruim weergalm. Jy draai jou kop om in dieselfde rigting as Jesus te kyk. Die lig en glansryke glorie van God se troon tref jou egter onkant en jy val spontaan op jou knieë neer. Nog nooit het jy soveel liefde op een slag ervaar nie. Dit is wanneer jy stadig opkyk dat jy sien hoe God reeds sy hand in die lig hou. Dan hoor jy hoe God met 'n stem wat soos donderweer deur die heelal weerklink Jesus se vraag beantwoord: "Amper my Seun. Die tyd is baie nader as wat jy dink."

Vir 'n oomblik sluit jy jou oë om sin te maak van alles wat jy pas gesien het. Wanneer jy dit nou weer oopmaak kyk jy nog 'n slag na die bose aan jou linkerkant. Die keer skarrel hulle bang weg voor God se lig en heerlikheid. Jy kyk weer na die regterkant na waar die Heilige Gees die bruid sagkens aanmoedig om haar oë terug op die Bruidegom te plaas. Weg van onenigheid tussen kerke. Weg van kritici en kerkskeuring. Terug na 'n plek waar die bruid as een liggaam funksioneer om die verlossingsboodskap van Jesus Christus suiwer te verkondig. Jy kyk weer op na Jesus en die legioen van engele wat gereed staan en na God se hand wat reeds opgehou word. Dan tref dit jou: Sodra God sy hand laat sak sal Jesus weet dat die tyd aangebreek het om sy bruid te gaan haal...

Die kerk is God se plan vir die wêreld. Net soos God vroeër die nasie van Israel as sy fokuspunt gekies het om aan al die ander nasies sy liefde en trou te bewys, het Hy na Jesus se kruisdood die kerk as sy fokuspunt gekies waardeur sy liefde en genade aan die mensdom gedemonstreer moet word. Die kerk is Jesus se bruid wat Hy met sy wederkoms gaan kom haal. Luister maar weer na Paulus se woorde in 2 Korintiërs 11:2:1-3: "Ek waak oor julle met 'n ywer wat van God kom, want julle is soos 'n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus..."

Is jy deel van die bruid wat met afwagting vir ons Bruidegom wag? Of kritiseer jy ander kerke en por kerkskeurings aan? Kan ek jou aanmoedig om seker te maak dat jy gereed sal wees vir daardie dag dat God sy hand laat sak en die engele hulle trompette en ramshorings opneem om die koms van die Bruidegom aan te kondig? Sterkte.

Vader God, dankie dat ek deel van U bruid hier op aarde kan wees. Help my asseblief om nie kritiek te lewer nie, maar om te kies om aktief deel te wees van u plan om u liefde aan die wêreld te demonstreer. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html