DIE VERLOSSER WORD GEBORE (DAG 12 van 26)

Deur: Benescke Botha

 

Dit is kort voor middernag in Witpoortjie. In die volgepakte agterplaas van Derrick de Bruin hang 'n atmosfeer van afwagting. Vir 12 jaar lank het Derrick hierdie rare blom in die middel van sy tuin noukeurig gevoed en versorg. Alles was in voorbereiding vir hierdie oomblik. Volgens sy berekeninge sal die blom vanaand vir die eerste en laaste keer blom. Skielik is daar 'n geritsel van die plant se kant af. Derrick stap nader. En nadat hy die plant goed bestudeer het, draai hy met 'n breë glimlag na die skare mense: "Dames en here, die tyd het aangebreek..."

 

Reis nou saam met my 2,000 jaar terug in tyd. Waar jy saam met die hemelskare rondom God se heilige troon vergader heers 'n atmosfeer van opgewondenheid en afwagting. Binne jou hart weet jy dat julle op die punt staan om iets groot te beleef. Dit is immers 400 jaar sedert God enige belangrike boodskap aan een van die profete op aarde gegee het. Skielik weergalm God se stem deur die hemelruim: "Gabriël!" 'n Grootgeboude engel buig nou laag voor God se troon terwyl sy goue swaard in sy belt in die lig wat van God se troon af skyn, skitter. Daar is 'n glimlag op God se gesig wanneer Hy nou verder praat: "Gabriël, die tyd het aangebreek..."

 

Oomblikke later verskyn Gabriël aan priester Sagaria in die tempel met 'n boodskap: "Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou 'n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. Hy sal 'n boodskapper wees wat Israel vir die koms van die Verlosser sal voorberei." (Lukas 1:13-16)

 

Ses maande later verskyn Gabriël aan die maagd Maria met nog 'n boodskap: "Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie." (Lukas 1:31-33)

 

Die woorde van Gabriël het waar geword. Sagaria en Elisabet het hulle seun Johannes genoem en Josef en Maria het hulle seun Jesus genoem. In die volgende paar jaar het hierdie twee neefs saam grootgeword - onbewus van die lewenstaak wat later op hulle skouers sou rus.

 

Vir 12 jaar lank het Derrick sy plant in die middel van sy tuin noukeurig gevoed en voorberei vir die een "klimaks-oomblik" in die blom se bestaan. Nadat God met Abraham 'n verbond gesluit het, het hy die mensdom vir sowat 2,000 jaar lank vir die een "klimaks-oomblik" van die skepping voorberei. Die oomblik wanneer God uit liefde sy Seun vir ons sou opoffer as die begin van sy verlossingsplan.

 

Johannes 3:16: "God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word."

 

Kan jy onthou hoe God in die tuin van Eden saam met Adam en Eva gesit en gesels en lag het? Dit is die tipe verhouding wat God begeer het toe Hy ons geskape het. Na die sondeval in die tuin het daar egter 'n skeuring in daardie verhouding tussen God en die mens gekom. Tog het God uit liefde nooit met ons moed opgegee nie. Hy was selfs bereid om uit liefde sy eie Seun vir ons te gee. Wat in jou lewe hou jou nog terug om 100% vir God te leef? Is dit nie dalk vandag tyd om uit liefde vir God daarvan afskeid te neem nie? Sterkte.  

 

Vader God, baie dankie dat U bereid was om u Seun te stuur om vir my sondes te sterf. Lei my deur u Heilige Gees om daagliks 'n sterker verhouding met U te bou. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html