LEWE IN DIE LIG? (DAG 19 van 26)

Deur: Benescke Botha

 

Vir Steve Hofmeyer was dit 'n ope-brief. Vir Joost van der Westhuizen, 'n video. En vir Tiger Woods, 'n ongeluk toe hy verlede naweek met sy motor in die boom voor sy huis vasgejaag het. Drie insidente wat in 'n oogwink 'n donker geheim aan die wêreld uitbasuin het.

 

Wie nou eintlik skuldig was en in watter mate is nie vir my om te oordeel nie. Wat egter interessant is, is hoe Jesus se woorde in Matteus 10:26-28 in hierdie situasies waar geword het: "Daar is niks wat weggesteek is wat nie aan die lig sal kom nie en alles wat geheim was, sal bekend word."

 

En hierdie woorde geld steeds vandag vir ons. Maar ek wonder, besef jy dat God jou nie net sien waar jy nou voor die rekenaar sit nie, maar dat Hy ook weet wat in jou hart aangaan? Luister weer na hierdie drie verse:

 

  • Jeremia 23:23-24: "Niemand kan in 'n geheime plek wegkruip sonder dat Ek hom sien nie, sê die Here. Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here."

 

  • Psalm 139:1,7,11-12: "Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom... Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig."

 

  • Hebreërs 4:13: "Daar is niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee."

 

Is daar vandag iets in jou lewe wat jy met alle mag en krag vir die lewe probeer wegsteek? Dalk 'n verbode verhouding? Dalk 'n verslawing? Dalk 'n oneerlike transaksie by die werk? Jy probeer dit goedpraat, maar diep binne jou weet jy dat die kloue van die sondemonster besig is om jou stadig maar seker te versmoor.

 

God is lig en in Hom is daar geen duisternis nie. Juis hierom moet ons streef daarna om in die lig te leef. 1 Johannes 1:1-2: "As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde."

 

Na die ontbloting van Steve, Joost en Tiger se geheime was daar baie kritiek, verwyte en selfs grappe op die blogs, eposse en in koerante rondgeslinger. Tog, het ek telkens gewonder, of hulle nie dalk in hierdie tyd wat hulle in hulle aanhangers se oë die "laagste" was, potensieel een stap nader aan God was nie? Hoekom? Is dit nie veel beter dat jou geheime hier op aarde aan die lig kom waar jy dit nog kan bely en daaraan kan werk as wat jou geheime nadat jy gesterf het voor God se troon ontbloot word wanneer dit te laat is nie?

 

Waarom kies jy nie ook om vandag met 'n opregte hart na God se genadetroon te hardloop nie? Dit is deur Jesus se kruisdood dat ons vergifnis vir ons sondes kan ontvang. Is dit nie veel beter dat iets hier op aarde ontbloot word as wat dit voor God se troon ontbloot word nie? Sterkte.

 

Vader God, dankie dat ek U lig in my lewe kan innooi. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om daagliks in daardie lig te leef. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html