KOM JESUS WEER? (DAG 26 VAN 26)

Deur: Benescke Botha

  

Flits vir 'n oomblik terug na die tuin van Eden. Kan jy onthou hoe Adam en Eva saam met God gesit en gesels en lag het? Dit is waarvoor God die mens geskape het. Vir 'n verhouding met Hom. Kan jy jouself indink watter hartseer dag dit moes wees toe God hulle na die sondeval uit die tuin verban het? Tog, uit liefde het God nie die mens afgeskryf nie, maar besluit om 'n Verlosser, Jesus Christus te stuur. Regdeur die Ou Testament het God die wêreld voorberei vir die Verlosser se koms.

 

Uit liefde het Jesus gewilliglik sy lewe opgegee. Hy is gekruisig, maar het weer opgestaan en die bose oorwin en so vir ons die outoriteit gegee om self ook in sy Naam oor die bose te heers. Deur Jesus kan ons nou met vrymoedigheid na God se troon gaan. Toe Jesus se taak op aarde klaar was, het Hy opgevaar hemel toe sodat ons die Heilige Gees kon ontvang. Dit is deur die Heilige Gees dat ons geestelik groei. Maar hoekom het Jesus weggegaan? Waar is Hy nou? Kom Hy weer terug? En wat sal sy wederkoms vir ons beteken?

 

VRAAG 1: Hoekom het Jesus weggegaan?

Johannes 14:3: "In die huis van my(Jesus se) Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is."

 

Johannes 4:12-14: "Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word."

 

VRAAG 2: Waar is Jesus nou?

Matteus 26:64: "Die hoëpriester sê toe vir Jesus: 'Ek stel jou onder 'n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?' Jesus antwoord hom: 'Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle: Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel.'"

 

VRAAG 3: Is jy doodseker dat Jesus weer gaan terugkom?

Johannes 4:18: "Ek (Jesus) sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe."

 

VRAAG 4: Hoe gaan Jesus terugkom?

Handelinge 1: 2,7-11:  Nadat Jesus se dissipels gesien het hoe Hy in 'n wolk weggeneem word, het twee mans in wit klere skielik by hulle gestaan met die woorde: "Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het."

 

VRAAG 5: Kan enigiemand bepaal wanneer Jesus gaan terugkom?

Matteus 24:36,40,42: "Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit... Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie."

 

VRAAG 6: Wat sal Jesus se WEDERKOMS vir ons beteken?

Openbaring 2:25-28: "Hou net vas wat julle het, totdat Ek kom. Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee... Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee."

 

Waar Jesus tans aan die regterhand van God sit, tree Hy daagliks vir ons in. En sodra Hy klaar vir ons 'n plak voorberei het, sal Hy ons op die wolke kom haal, net soos Hy eens weggegaan het. Bly jy waaksaam? Is jy gereed as Hy dalk môre terugkeer? Sterkte.

 

Vader God, ek staan absoluut in verwondering oor u liefdesverhaal wat ons regdeur die Bybel lees. Dankie vir u grootheid, u almag en u heerlikheid. Lei my asseblief om daagliks deur u Heilige Gees se leiding iets meer van u liefde te verstaan. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html