IS STILTE WERKLIK STILTE? (DAG 11 van 26)

Deur: Benescke Botha

 

Maleagi tot Matteus. Die laaste boek in die Ou Testament tot by die eerste boek in die Nuwe Testament. 'n Tydperk van 400 jaar sonder enige boodskap van God se kant af. Maar waarom hierdie "stilte"?

 

Flits saam met my terug in tyd. Dit is rondom 200 v.C. in Jerusalem. Vir 'n oomblik verkyk jy jou aan die Israeliete wat op die markplein rondbeweeg voordat jy teen die trappe na die tempel begin opstap. Aan die bokant haal jy diep asem en stoot dan stadig die swaar, krakende houtdeure van die tempel oop. Aan die binnekant snak jy na jou asem. Alles lyk dan so perfek. Dit is die ouerige tempelpriester voor teen die venster wat jou aandag trek. Jy stap nader. Dan tref dit jou. Hierdie man is besig om die soveelste manuskrip van die Hebreeuse Bybel te dupliseer. Maar waarom?

 

Soos jy nou by een van die tempelvensters na die mense op die markplein kyk, flits jou gedagtes vir 'n oomblik na die hartseerdag in 587 v.C. toe die Babiloniërs Jerusalem binnegeval het. Die pragtempel van Salomo was tot teenaan die grond afgebrand en die Israeliete is na Babilon weggevoer. Tog het God sy belofte aan die nasie gehou dat hulle na 70 jaar van ballingskap na Jerusalem sal terugkom. Die keer was dinge in Jerusalem egter anders. Die tempel is herbou, maar dit was heelwat kleiner. Waar die Israeliete vroeër hulle eie koning gehad het, was hulle nou ondergeskik aan die Persiese koning wat oor die streek regeer het. En ná die profeet Maleagi was daar geen meer boodskappe van God se kant af nie.

 

Maar waarom? Het God die Israeliete nie meer liefgehad nie? Het God van hulle vergeet? Natuurlik nie. God was nou besig om "ondergronds" te werk. Net soos 'n saadjie wat geplant word en met die regte temperatuur, water en voeding op die regte tyd bo die grond as 'n plant sal verskyn, was God besig om die Israeliete in hierdie "400 jaar van stilte" vir sy meesterplan voor te berei. Die gedupliseerde manuskripte, gevul met profesieë wat die lewe, sterwe en opstanding van 'n Verlosser vir Israel voorspel het, is in hierdie tyd gereeld in die sinagoges voorgelees. Dit het 'n afwagting in die Israeliete se harte begin skep vir volgende sou volg.  

 

Hier is 7 van die sowat 356 profesieë wat tot op die letter vervul is:

1.       In Miga 5:1 en Jesaja 7:14 voorspel God deur die profete Miga (742-667 v.C.) en Jesaja (740-681 v.C.) dat die Verlosser in Bethlehem uit 'n maagd gebore sal word. In Lukas 2:4-7 en Lukas 1:26-27; 30-31 word hierdie profesieë waar.

2.       In Jesaja 29:18-19 en Jesaja 35:5-6 voorspel God deur Jesaja (740-681 v.C.) dat die Verlosser blindes sal laat sien, dowes sal laat hoor en lam mense sal kan laat loop. In Lukas 7:22-23 en Matteus 11:3-6 word hierdie beloftes vervul.

3.       In Jesaja 8:14, Jesaja 53:3-5 en ook in Psalm 118:22 voorspel God dat die Verlosser deur sy eie mense verwerp sal wees. In Johannes 1:11, Lukas 23:18, Handelinge 4:11 en 1 Petrus 2:7-8 word hierdie profesieë waar.  

4.       In Jesaja 50:5-6 en Jesaja 53:7-8 voorspel God deur Jesaja (740-681 v.C.) dat die Verlosser se aanklaers op hom sal spoeg, maar dat die Verlosser stil voor sy aanklaers sal wees. In Matteus 26:67-68, Matteus 27:30 en Markus 15:4-5 word hierdie profesieë vervul.

5.       In Jesaja 53:5 en Sagaria 12:10 voorspel God deur Jesaja (740-681 v.C.) en Sagaria (480 v.C.)  dat Jesus in sy hande en voete deurboor sal word. In Matteus 27:26 en Johannes 20:25-27 word hierdie profesieë waar.

6.       In Psalm 22:19 en Psalm 69:22 voorspel God deur Dawid (1010 v.C.) dat die aanklaers die Verlosser se klere met lotery onder mekaar sal verdeel en ook dat hulle vir die Verlosser asyn sal gee om te drink. In Matteus 27:35 en Johannes 19:28-30 word hierdie profesieë waar.

7.       In Jesaja 53:12 voorspel God dat die Verlosser vir sy vyande aan die kruis sal intree. In Lukas 23:34 word hierdie profesie waar.

 

Besef jy dat God ook jou toekoms ken? Besef jy dat wanneer dit voel asof God "stil" is, Hy dalk ook besig is om sy beloftes in jou hart te vestig sodat jy met 'n afwagting na jou volgende seisoen kan begin uitsien? Onthou, jy is nooit alleen nie. God is reg langs jou. Kan ek jou dus uitdaag om op Hom te wag? Wie weet, dalk begin jou "volgende seisoen" nog voor die einde van hierdie week! Sterkte.

 

Vader God, dankie dat U ons altyd voorberei vir wat U in die toekoms wil doen. Help my asseblief om altyd te onthou dat al voel dit soms asof U stil is, dat U eintlik reg langs my is. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html