GESKEP VIR VERHOUDING (DAG 1 van 25)

Deur: Benescke Botha

 

Flits vir 'n oomblik terug in tyd. Terwyl jy jou oë knip probeer jy sin maak uit die ruimte van niks wat nou voor jou lê. 'n Ruimte sonder diere, plante, mense of lig. Niks. Dit is net die Gees van God wat stadig heen en weer oor die diep bodemlose waters beweeg. Binne jou bruis 'n gevoel van afwagting. Jy weet iets groot is op die punt om te gebeur. Is jy gereed? 'n Donderslag weerklink deur die heelal en voor jou oë is dit asof iemand die "fast forward"-knoppie op die afstandbeheer gedruk het terwyl jy in verwondering staan en kyk hoe God in ses dae die heelal skep...

 

Dag een: God skei lig en donker van mekaar en skep vir die eerste keer tyd. Dag twee: God skep vertikale ruimte. Dag drie: God skep die planteryk. Dag vier: God skep die son, maan en sterre wat help om seisoene, dae en jare te bepaal. Dag vyf: God skep seediere en voëls. Dag ses: God skep al die diere op die aarde. Dan, vir 'n splitsekonde stop God. Iets skort. Met 'n glimlag draai Hy nou terug na sy werkbank waar hy weer begin timmer. Die keer aan die kroon van sy skepping, die enigste skepsel na sy beeld, die mens. Dag sewe: God rus.

 

Flits nou 'n paar dae vorentoe. Dit is laatmiddag in die tuin van Eden. Kan jy die geblêr van die skape veraf hoor? Ook die gesing van die voëls hoog bo in die boomtakke? Terwyl jy nou langs die rivier verbystap in die rigting van die gelag en gesels êrens in die tuin, skitter die goud en edelgesteentes op die bodem van die rivier in die laatmiddagson. Alles is perfek geskape. Die geluid van die stemme word al harder. "Dit moet Adam en Eva wees," dink jy by jouself. Dan, soos jy nog een van die digte struike wegstoot snak jy na jou asem. Wat jy voor jou sien is te mooi om in woorde te beskryf. Dit is nie net Adam en Eva nie, maar God self wat met hulle sit en gesels!

 

Stop vir 'n oomblik.

 

Dalk vra jy ook vandag: "Vir wat het God besluit om al hierdie dinge te skep? Was Hy verveeld?" Natuurlik nie. Om daardie vraag te vra is soos om vir 'n skilder te vra waarom hy nog 'n prent wil verf? Of vir 'n beeldhouer waarom hy nog 'n beeld wil maak? Of vir 'n musikant waarom hy nog 'n lied wil komponeer? As kreatiewe, kunssinnige mens het elk van hulle 'n behoefte om hierdie kreatiwiteit uit te leef. Hoeveel te meer het God, die Skepper na wie se beeld ons geskape is, die bron van alle kreatiwiteit, ook 'n behoefte gehad om sy kreatiwiteit en almagtigheid aan ons te demonstreer. En die heelal? Dit was bloot een van sy kreatiewe projekte.

 

En waarom het God die mens geskep? In Kolossense 1:16 staan geskryf: "God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie... Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand."

 

Alles is deur God en vir God geskep.Ons is dus geskep om 'n verhouding met God te bou. Hoe weet ons dit? In 1 Johannes 4:19 staan geskryf: "Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het." Tog het God een risiko in die skepping ingebou toe hy aan ons as mens 'n vrye keuse gegee het. Ons het dus 'n keuse of ons God gaan aanvaar en ons Hom gaan verwerp.

 

As jy eerlik na jou verhouding met God en ook met die mense om jou moet kyk. Demonstreer dit jou liefde vir God? Of verwerp jy hom deur hoe jy optree?

 

Flits weer saam met my terug na die tuin van Eden. Hoor jy hoe God nou lag vir iets wat Adam gesê het? Wie weet, dalk gaan dit oor 'n vreemde dier wat Adam daardie dag in die tuin raakgeloop het? Onthou, God het jou lief. Hy begeer ook 'n verhouding met jou. Dit is immers die rede waarom hy jou geskape het. Sterkte.

Vader God, dankie dat ek kan weet dat U my geskep het om werklik 'n verhouding met U te bou. Lei my daagliks om te weet wat dit vir my beteken en hoe ek my lewe kan aanpas om nader aan U te groei. Ek bid daarvoor in die Naam van Jesus Christus. Amen.

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html