GOD KIES 'n NASIE (DAG 3 van 25)

Deur: Benescke Botha

 

Die fokuspunt.

 

Gesels jy met 'n binnenshuise versierder, sal dié jou gou inlig dat mens altyd by die fokuspunt in 'n vertrek moet begin voordat jy die res van die vertrek versier. Net so sal 'n tuinontwerper jou aanmoedig om eers die fokuspunt in jou tuin te identifiseer voordat jy die res van die tuin uitlê. En praat jy met 'n stylkonsultant sal dié sonder skroom uitwys dat elke uitrusting ten minste een fokuspunt moet hê.  

 

In 'n vertrek kan die fokuspunt 'n spesiale spieël, 'n skildery, 'n klavier of 'n dramatiese meubel wees. Dít wat jou aandag eerste sal trek. In die tuin kan is dit 'n waterval, 'n spesiale bedding vol helderkleurige blomme of 'n uitheemse, indrukwekkende stryk wees. En wanneer jy aantrek kan daardie fokuspunt 'n helderkleurige das, groot bonkige juwele of 'n besonderse handsak wees.

 

Die doel van die fokuspunt? Dit gee aan die observeerder se oog 'n plek om te rus. Van daar af word na die res van die vertrek, tuin of uitrusting gekyk wat versier word om aan die fokuspunt 'n balans te bring.

 

Nou hoe op dees aarde bring ek die fokuspunt uit by God se keuse van die Israeliete as sy nasie?

 

Flits vir 'n oomblik saam met my terug na waar Adam en Eva uit die tuin verban is. Hoor jy nou die gille van hulle seun Abel voordat Kain hom vermoor? Flits verder vorentoe en jy sal geskok staan en kyk na hoe gewelddadig, korrup en goddeloos die nageslag van Kain en Set (Adam en Eva se ander seun) geword het. Vir God het hulle geen respek meer getoon nie. So erg het dit geraak dat God in Genesis 6:7 gesê het: "Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook die wat kruip en die voëls. Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het."

 

Was dit nie vir Noag nie, het ons nie meer bestaan nie. Dit was sy gehoorsaamheid aan God wat veroorsaak het dat God hom en sy gesin, saam met twee van elke diersoort gespaar het terwyl die sondvloed die res van die skepping verwoes het. Uit Noag se seun, Sem se nageslag is Abram gebore. Die man wat later as Abraham bekend sou staan. Die vriend van God. Die vader van die Israeliete. En dit is die Israeliete wat God as sy fokuspunt op aarde gekies het. Deur hulle sou ander nasies geseën word.

 

Maar waarom het God vir Abraham gekies? Vir dieselfde rede waarom jy 'n spesifieke spieël of stuk meubel as jou fokuspunt vir jou vertrek kies. Jy hou daarvan. Dit weerspieël iets van jou smaak en karakter. Net so het God van Abraham gehou. Iets van Abraham se karakter sou aan die res van die wêreld kon demonstreer wie God is.

 

Om Abraham voor te berei het God hom van sy familie laat wegtrek (Genesis 12). Om God se getrouheid aan Abraham te demonstreer het Hy met hom 'n verbond gesluit (Genesis 15): "Moenie bang wees nie Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees." En omdat God Abraham se opregtheid en getrouheid teenoor Hom wou toets (net soos Hy Adam en Eva sin met die verbode boom getoets het), het God aan Abraham die opdrag gegee om sy seun, Isak vir wie Abraham gewag het totdat hy 100 jaar oud was, te gaan offer (Genesis 22). Telkens was Abraham gehoorsaam aan God. Daarvoor het God hom geseën. Genesis 22:15: "Ek lê 'n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie... Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie soos die sterre van die hemel..."

 

Dit is uit Isak se nageslag dat Jakob gebore is. En dit is hierdie Jakob wat regdeur die nag met 'n man op die rivierwal gestoei het totdat die man hom geseën het (Genesis 32:28): "Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense 'n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou."

 

Uit Jakob (wat Israel geword het) se nageslag is die Israeliete gebore. Die nasie wat God uitgekies het om aan die res van die mensdom te demonstreer wie Hy is. Sy fokuspunt. (Van môre af lees ons meer oor hulle avonture saam met God.)

 

Besef jy dat God jou ook sal toets voordat Hy jou gebruik? Jou gehoorsaamheid teenoor Hom is veel meer werd as goeie dade. Adam en Eva en ook Abraham het eens voor 'n keuse gestaan. Wat gaan jy kies as jy voor 'n keuse te staan kom? Onthou, jou nageslag sal óf baat vind, óf skade ly deur jou keuses. Sterkte.  

 

Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U nooit moed opgegee het op ons as mense nie. By U is daar altyd tweede kanse. Help my asseblief om vandag reg te kies wanneer ek voor 'n keuse te staan kom. Ek vra daarvoor in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html