DIE GEVOLGE VAN ONGEHOORSAAMHEID (Dag 10 van 26)

Deur: Benescke Botha

                                                                                                   

Met traanmerke duidelik op haar wange staan Joan nou van haar knieë af op. Dit is die soveelste keer dat sy in gebed gesmeek het dat God haar seun Louis se lewe moet aanraak en verander. Net ses maande gelede was Louis nog een van die toppresteerders in sy klas. In sy vriende se oë sou hy die volgende hoofseun van sy skool word. Nou ses maande later slaag Louis net-net sy vakke, terwyl hy selde skool bywoon. Dwelms het sy lewe oorgeneem. Waar sy ma voorheen geskree, gepleit en gedreig het dat nog gearresteer gaan word, het sy nou stil geword.  

 

Flits nou terug in tyd. Dit is rondom 587 v.C. Op die profeet Jeremia se gesig is daar ook traanmerke waar hy nou van die tronksel se vloer hier in Jerusalem af opstaan. Vir amper drie dekades het hy die Israeliete probeer waarsku. Hy het ook geskree, gepleit en gedreig dat verwoesting en ballingskap vir hulle voorlê as hulle nie van hulle sondes en afgode af wegdraai, terug na God toe nie. Hulle wou nie luister nie. En die uiteinde?

 

Voor ek jou vertel, flits eers saam met my terug in tyd na waar Dawid met 'n gebroke hart sy skuld oor sy buite-egtelike verhouding voor God bely. God het hom vergewe en aan hom en Batseba 'n tweede seun gegee. Salomo. Dit is hierdie seun van Dawid wat later vir sy wysheid en rykdom bekend geword het. Salomo het die boek van Spreuke geskryf. Dit is ook hierdie Salomo wat die eerste tempel vir God in Jerusalem gebou het. Ná Salomo se dood het 'n string konings gevolg. Sommige was regverdig, ander goddeloos. Maar dit is in die tyd van Jeremia se bediening dat die Israeliete se ongehoorsaamheid teen God hoogty gevier.

 

Flits nou terug na Louis en Jeremia. Uit irritasie met sy ma se waarskuwings het Louis van die huis af weggehardloop en by die bendes gaan bly. Hy is 'n week later gearresteer. Net so het die Israeliete besluit om Jeremia in die tronk te stop toe hulle nie langer na sy waarskuwings van ballingskap wou luister nie.

 

In die tronksel in Jerusalem het, het daar egter 'n wending in die Israeliete se verhaal gekom. Luister na God se woorde aan Jeremia: "Jeremia, moenie langer vir die Israeliete bid nie. Ek luister nie meer as jy vir hulle bid nie." (Jeremia 7:16, 11:14, 14:11) Wat? Het God die Israeliete dan verwerp? Het Hy van sy verbond met Abraham vergeet? Natuurlik nie. God se beloftes staan vas. Hy bly gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde. Juis daarom dat Hy ons vandag nog oor en oor sal waarsku as ons verkeerde dinge ons lewens toelaat. Net soos 'n ouer wat 'n rebelse kind uit liefde tug, tug God ons ook uit liefde. Hoekom? Omdat karakter vir Hom belangrik is.      

 

Hebreërs 12:5-6: "Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: "My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem."

 

Psalm 145:8: "Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Die Here is vir almal goed en barmhartig oor alles wat Hy geskep het."

 

Net soos Louis nooit die arrestasie verwag het nie, het die Israeliete ook nooit die Babiloniërs se inval in Jerusalem verwag nie. Dit was 'n hartseerdag vir hulle. Nie net is man, vrou en kind (net soos Jeremia voorspel het) in ballingskap na Babilonië weggevoer nie. Die pragtempel van Salomo is tot teenaan die grond afgebrand.

 

Maar God het die Israeliete ook voorberei. Luister net na Jeremia se woorde te midde van hulle rebelse, ongehoorsame tyd: "Israel, so sê die Here: Oor presies 70 jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring. Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor." (Jeremia 29:11)

 

Hoe lyk jou lewe vandag? Het daar dinge waaroor die Heilige Gees met jou praat wat jy weet jy verkeerd doen? Luister jy of kies jy om Hom te ignoreer? Sterkte.

 

Vader God, baie dankie vir u liefde en genade in my lewe. Help my asseblief om na u Heilige Gees se stem te herken en daarop te reageer. Ek bid daarvoor in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html