OP WAT FOKUS JY? (DAG 17 van 26)

Deur: Benescke Botha

 

'n Volkslegende lui soos volg:

Dit was 'n hartseerdag toe die koningin van die koninkryk op 'n jong ouderdom sterf. Nie net was sy die koning se liefde van sy lewe nie. Sy was ook geliefd onder al die inwoners van die koninkryk. Van oral oor het die mense gereis om vir oulaas hulle eerbied aan hulle koningin te kom betoon waar die koning se knegte haar kis deur die strate van die stad sou dra.   

 

Dit is toe die knegte ná die optog deur die strate die koningin se kis langs die oop graf op die grond neersit, dat die koning hartgebroke op sy knieë neerval: "Justine! Justine! Hoe gaan ek ooit sonder jou kan leef?!" Vir 'n geruime tyd het die koning met rukkende skouers langs die kis gesit. Toe hy eindelik opstaan, het hy met 'n luide stem aankondig: "Knegte, gooi die graf toe. Ons gaan nie die koningin hierin begrawe nie. Van môre af begin ons bou aan 'n tempel met net die beste boumateriale waarin ons haar in 'n ereplek kan begrawe. Niemand mag van haar ooit vergeet nie!"

 

Vroegoggend die volgende dag het die werkers aangemeld en die bouwerk het begin. Soos die maande en later jare verbygesleep het en die gebou al meer indrukwekkend geword het, het die bouers egter al minder aandag aan die vaal, stowwerige houtkis in die middel van die vertrek begin gee. Soms het dreigende oorloë die bouwerk vir maande laat stilstaan, maar wanneer dit hervat is, het die gebou net mooier geword.

 

Na jare se bouery stap die koning een laatmiddag die tempel binne om die bouwerk te bewonder. In sy skik draai hy om, om uit te stap toe hy per ongeluk sy voet teen die bruin houtkis in die middel van die vertrek stamp. Half geïrriteerd roep hy een van sy knegte nader met die woorde: "Vir wat staan hierdie bruin houtkrat hier? Verwyder dit meteens!" Die wagte het die koning se opdrag uitgevoer en die koningin uit die tempel verwyder.

 

Is dit nie presies hoe ons Christene soms is nie? Ons staan verstom oor God se liefde en verlossingsplan vir die mensdom. Dan, met 'n knop in die keel lees ons van Jesus se opoffering vir ons aan die kruis. Ons val (soms selfs in trane) op ons knieë neer terwyl ons, ons sonde bely en tot bekering kom. En dan? Leef jy 'n lewe wat getuig dat Jesus die Koning van jou lewe is? Of lei jy soms nes die koning en sy bouers aan "geheueverlies" wanneer die wêreldse dinge rondom jou aanloklik begin raak?

 

In Romeine 1 herinner Paulus ons aan God se liefde vir ons mense. Ook dat ons nou onder die genade-bedeling staan en daarom slegs deur ons geloof in Jesus Christus en nie uit goeie dade gered kan word nie. Paulus gaan dan verder deur te beklemtoon dat God steeds aan ons 'n keuse gee of ons Hom gaan volg of Hom te verwerp - amper net soos aan Adam en Eva met die verbode boom in die tuin.

 

Kies jy om 'n verhouding met God te bou en daagliks te streef daarna om meer soos Jesus te word, wag ewige heerlikheid, eer en vrede op jou (Romeine 2:10) wanneer die finale oordeelsdag aanbreek. Net so wag lyding en benoudheid (Romeine 2:9) op daardie dag vir jou as jy kies om jou selfsugtige en sondige begeertes na te jaag.

 

Een ding wat ons moet besef is dat dit nooit in God se plan was om ons mense te straf nie. Hy het ons lief. Het Hy nie sy Seun aarde toe gestuur as bewys daarvan nie? Dit is omdat Hy ons liefhet dat Hy ons vooraf teen die seerkry en gevolge van jou sonde wil beskerm. Luister maar na Paulus se woorde in Romeine 2:4: "God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie? Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jou self straf op te gaar vir die oordeelsdag wanneer God sy regverdige oordeel sal uitspreek."

 

In 1 Petrus 1:16 staan geskryf: "Wees heilig, want Ek (God) is heilig." Streef jy vandag daarna om heilig voor God te wees? Nie uit plig nie, maar omdat jy Hom liefhet. Is daar iets in jou lewe waarvan jy moet afstand doen? Skinderpraatjies? Hoogmoed? Drank? 'n Verkeerde verhouding? Pornografie? Losbandige partytjies? Jaloesie? Kan ek jou aanmoedig om vandag reg te kies? Sterkte.

 

Vader God, baie dankie vir u liefde vir my. Help my asseblief om daagliks reg te kies wanneer ek in moeilike situasies kom. En versterk my deur u Heilige Gees sodat ek u liefde en genade beter kan verstaan. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html