VERHOUDING VERBREEK (DAG 2 van 25)

Deur: Benescke Botha

 

Adam: "Sit nou net doodstil! As God ons so moet sien!"

Eva: "Ek kan nie help die vervlakste slang het my mislei nie..."

Adam (kwaai): "Sjuut."

 Binne 'n paar minute het die opgewekte stemme wat vroeër in die tuin opgeklink het in bang fluisterstemme verander. En waar Adam en Eva vroeër opgewonde gewag het dat God teen laatmiddag deur die tuin moes kom stap, kruip hulle nou soos misdadigers tussen die struike in die tuin vir Hom weg. Maar waarom?   

 Flits saam met my na 'n paar uur vantevore...

 Slang (verleidend): "Vrou... het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?"

Eva: "Nee slang, ons mag van die vrugte eet. Daar is egter net een boom in die middel van die tuin waarvan ons nie mag eet nie. As ons daarvan eet sal ons seersekerlik sterf..."

Slang: "Sterf? Ag nee, julle sal nie sterf nie. God weet net dat julle oë dan sal oopgaan en dat julle dan volmaakte kennis sal hê."

Eva: "Volmaakte kennis? Is jy seker slang? Uh... een vruggie sal seker nie skade doen nie?"

Slang: "Dit is reg. Kom saam, ek sal jou help om sommer die rypste een te gaan uitsoek."

 Eva het van die vrugte geëet en ook vir Adam daarvan gegee. Skielik het hulle oë oopgegaan.

 Flits nou terug na waar Adam en Eva beangs, verward en kwaad vir hulleself tussen die struike sit. Kan jy hoor hoe God na hulle roep waar Hy nou deur die tuin stap?

 God: "Adam, Eva? Waar is julle?"

Adam (ongemaklik en bang): "Uh, hier is ons God. Ek het U in die tuin hoor stap en bang geword, want ek is kaal."

God: "En hoe het jy geweet dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?"

Adam (baie bang): "Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet."

Eva: "O nee God, dis die slang wat my gekul het! Dit is die slang!"

 Minute later is Adam en Eva uit die paradys verban.

 Van sondevry tot vol sonde. Van 'n intieme verhouding met God tot 'n skeiding tussen God en mens. "Maar waarom?" mag jy vra. "Waarom was hierdie oortreding dan so groot?"

 God het die risiko geneem om ons met 'n vrye wil te skep omdat Hy nie wou hê dat ons Hom soos robotte moet aanbid nie, maar dat ons dit doen uit ware liefde vir hom. As toets vir Adam en Eva se opregte verhouding met Hom, het God daarom besluit om die verbode boom in die tuin te plaas.

 Dit het dus nooit oor die vrugte van die boom gegaan nie, maar oor wat dit verteenwoordig: Ongehoorsaamheid aan God. 'n Gebrek aan respek vir Hom. En die ergste, hierdie vrugte sou 'n skeiding tussen 'n heilige God en ons sondige mense veroorsaak - wat gebeur het. Tog het God 'n plan gehad om hierdie skeiding te herstel - 'n plan wat ons in die volgende paar dae in meer detail sal ontdek.

 Maar hoe raak die gebeure my vandag hier in 2009? Besef jy dat die Satan en sy trawante steeds tot vandag toe dieselfde strategie gebruik om ons mense te verlei? Vandag is dit in die vorm van gedagtes. Hy oortuig jou dat jy daardie een ekstra glasie wyn moet drink omdat dit "tog nie soveel skade kan doen nie" - al het jy reeds te veel gedrink. Hy oortuig jou dat jy daardie nuwe kollega by die werk maar kan bel of SMS - jou huweliksmaat "sal tog nooit daarvan weet nie". Hy oortuig jou dat jy skinderstories kan oorvertel of witleuentjies kan gebruik omdat jy jou só uit 'n moeilike situasie kan wurm. Val jy vir hierdie leuens?

 Wat is jou verbode boom in jou lewe? Gaan jy kies om "nee" te sê en met integriteit te bly optree? Onthou, met jou keuses wys jy ook hoe opreg jou verhouding met God is. Sterkte

 Vader God, baie dankie vir 'n vrye wil. Help my asseblief om die verleiding van die vyand te herken en gee aan my die krag om in elke situasie reg op te tree. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html