GAAN JY OP GOD VERTROU? (DAG 8 van 25)

Deur: Benescke Botha

 

Vir Johnny was dit sy groot oomblik. Met 'n hart wat vinnig klop, het hy vir oulaas van die hek van die park vol mallemeules na die "gevaarlike" Kobra-rit in die middel van die park gekyk. Hy was gereed. Vandag sou hy op die Kobra ry en môre sou hy saam met sy vriende by die skool oor hierdie ervaring kon praat.  

 

Maar dan, net soos Johnny in die rigting van die Kobra begin stap hoor hy sy ma se stem agter hom: "Johnny, ek dink nie jy wil op daardie rit klim nie?" Geskok swaai hy om. "Wat? Maar natuurlik wil ek!" Dan begin hy smeek:  "Asseblief, mamma, ek wil so, so, so graag op die rit gaan! Ek is die enigste een van my vriende wat nog nie daarop gery het nie. Asseblieffff!" Met Johnny se aanhoudende gekerm en sy ma se geduld wat nou tot op breekpunt beproef word, stem sy eindelik in.

 

Met 'n breë glimlag gaan Johnny op sy plek op die Kobra sit. Dan begin die rit. Hoër en hoër die lig in. Skielik verander Johnny se glimlag na 'n uitdrukking van vrees. "Stop! Stop hierdie rit! Ek wil afklim! Ek haat dit!" Maar nou moet Johnny sit en wag totdat die rit klaarmaak. Na tien minute stop die rit eindelik en waar Johnny met wankelende bene en 'n bleek gesig afklim probeer hy dapper om sy naarheid van die res van sy gesin te verbloem!

 

Flits nou saam met my terug in tyd. Dit is rondom die jaar 1050 v.C. Sien jy die trane wat oor die twaalfde en laaste rigter, Samuel se gesig vloei waar hy op sy knieë voor God staan? In 1 Samuel 8 lees ons dat die leiers van Israel na Samuel gekom het met die versoek dat Israel net soos die ander nasies rondom hulle ook hulle eie koning wou hê.   

 

Op die oog af klink hierdie versoek nie verkeerd nie, reg? Tog, vir Samuel was dit soos 'n dolk deur sy hart. Hoe kon die Israeliete so blind wees? Tot voor hierdie dag was God Israel se koning. Deur Moses het Hy die Israeliete uit Egipte gelei. Deur Josua het Hy die Israeliete die beloofde land ingelei en in Kanaän het God die Israeliete deur die twaalf rigters gelei. Maar nou hierdie versoek! Luister nou na God se reaksie in 1 Samuel 8:7: "Samuel, gee toe aan die versoek van die volk in alles wat hulle van jou vra. Hulle het jóú nie verwerp nie; hulle het Mý verwerp as koning oor hulle."

 

Flits vir 'n oomblik terug na die park vol mallemeules en Johnny wat aanhoudend smeek dat sy ma hom op die "groot en gevaarlike" Kobra moet laat klim. Aanvanklik weier sy ma omdat sy weet dat Johnny maklik naar word. Sy wil hom dus beskerm. Al wat egter vir Johnny saak maak is die feit dat hy môre saam met sy vriende by die skool oor sy ervaring wil gesels. En met Johnny se aanhoudende gekerm kom daar dan 'n punt wat sy ma terugstaan sodat hy op die harde manier sy les moet leer.   

 

Net so het God die Israeliete in 1 Samuel 8:11-13 gewaarsku van die onderdrukking wat sou volg as 'n koning oor hulle aangestel sou word. Die leiers wou egter nie luister nie. Al wat vir hulle saakgemaak het, was dat hulle soos die volke rondom hulle sou wees. En net soos Johnny se ma het God aan Samuel die opdrag gegee om Saul as die eerste koning van Israel te seën.

 

Besef jy dat ons ook soms net soos die Israeliete raak? Ons probeer ook om God met ons smeekgebede te oortuig dat Hy aan ons 'n spesifieke huis, kar, werk of selfs 'n spesifieke persoon as ons lewensmaat moet gee. Aanvanklik sê God "nee" omdat Hy jou wil beskerm en dalk iets beter vir jou in gedagte het. Maar jy hou aan met smeek. Dan kom daardie punt dat God net soos Johnny se ma terugstaan en jy self die gevolge van jou versoek moet dra. Kan ek jou dus vandag aanmoedig om rustig te word voor God en om Hom te vertrou vir die regte deurbraak in jou lewe? Sterkte.

 

Vader God, dankie vir U liefde vir my. Help my asseblief deur u Heilige Gees om te besef wanneer om aan te hou bid en wanneer om net op u te vertrou sodat ek nie onnodige deure probeer oopbreek nie. Ek bid daarvoor in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html