LAAT DIE HEILIGE GEES JOU LEI? (DAG 21 VAN 26)

Deur: Benescke Botha

 

Hoe klink die Heilige Gees se stem? Hier is drie getuienisse van Vers-'n-Dag lesers:

 

Jenny voel nou die dag dat sy by 'n groen verkeerslig moet stop. Sy het. Oomblikke later het 'n swaarvoertuig wat se remme ingegee het voor haar verby oor die rooi verkeerslig gejaag. Deur haar gehoorsaamheid was Jenny veilig.

 

Ronel skrik 'n paar maande gelede een nag wakker met 'n dringende gevoel dat sy vir haar kinders se veiligheid moet bid. Sy het. 'n Halfuur later het haar kinders haar gebel met die nuus dat daar 'n inbreker in hulle agterplaas was, maar dat hulle die polisie betyds kon ontbied. Deur Ronel se gehoorsaamheid was haar kinders veilig.

 

En 'n geharde besigheidsman het onlangs 'n groot besigheidsgeleentheid deur sy vingers laat glip omdat hy sy onrustigheid oor die transaksie nie kon verklaar nie. 'n Paar maande later is daardie maatskappy met wie hy besigheid sou doen, bankrot verklaar. Deur sy gehoorsaamheid is hy van groot finansiële verliese gespaar.  

 

Is dit hoe God met ons praat? Daardie diepe wete, 'n influistering in ons siel?

 

Flits saam met my terug in tyd. Dit is rondom 33 n.C. waar ons nou deur die strate van Jerusalem stap. 'n Feestelike atmosfeer heers terwyl huishoudings die laaste voorbereidings vir hulle Paasfees-etes tref. Stap nou op saam met my teen die trappe na 'n bokamer in die stad waar sowat 120 gelowiges vergader het. Dit is reeds die tiende dag dat hulle gekom het om saam te bid. Tog heers hier 'n ander atmosfeer. Een van vrees, maar ook afwagting. Vrees vir die moontlike vervolging van die Romeinse soldate omdat hulle volgelinge van Jesus Christus is. Maar afwagting omdat Jesus hulle tien dae gelede voor sy hemelvaart op die Olyfberg weereens daaraan herinner het dat Hy aan hulle 'n geskenk, die Heilige Gees sal gee.

 

Hoe het hierdie groep mense se lewens nie oor die afgelope 50 dae verander nie? Al het Jesus hulle op sy dood voorberei, het geeneen sy kruisdood verwag nie. Nog minder het hulle verwag om hom drie dae later weer lewendig te sien. Dit was die merke aan sy hande en voete wat hulle oortuig het dat Jesus werklik weer opgestaan het. En na sy hemelvaart het die engele op die Olyfberg hulle verseker dat Jesus weer sal terugkom op dieselfde manier as waarop Hy weggegaan het.

 

Skielik is daar 'n oorverdowende stormwind in die vertrek waar die gelowiges nou nader na mekaar gestaan het om saam te bid. Dit is wanneer hulle die vuurvlamme bokant elkeen se kop sien en hoor hoe elkeen in 'n onbekende taal praat dat hulle met 'n glimlag besef dat Jesus se woorde waar geword het. Hulle het pas die Heilige Gees ontvang.

 

Na hierdie dag was die krag van die Heilige Gees binne elkeen van hulle duidelik. Hulle kon siek mense genees, bose geeste uitdryf en het met selfvertroue die evangelie van Jesus Christus aan die wêreld verkondig. Van die vrees en onsekerheid wat vroeër vlak in hulle gemoed gelê het, was daar geen teken omdat hulle besef het dat dieselfde Heilige Gees wat Jesus uit die dood uit opgewek het nou deur hulle gewerk het.

 

Besef jy dat ons vandag dieselfde toegang toe die Heilige Gees, ons Leidsman het? Die vraag is net: Laat jy die Heilige Gees toe om jou daagliks te lei? Leef jy deur die Heilige Gees?

 

Romeine 6:5-6: "Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede..."

 

Ons sondige begeertes is 'n vyand van die Heilige Gees. Net so is die Heilige Gees 'n vyand van ons sondige begeertes. Na watter een van die twee luister jy die meeste?

 

Kan ek jou aanmoedig om die Heilige Gees toe te laat om jou daagliks in elke situasie te lei? Kies van vandag af om doelbewus jou ore te spits sodat jy kan luister as die Heilige Gees vir jou fluister! Sterkte.

 

Vader God, dankie vir die gawe van die Heilige Gees. Help my om daagliks te streef daarna om meer en meer gehoorsaam aan u Heilige Gees se stem in my lewe te word. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html