IS JY WEDERGEBORE? (DAG 23 VAN 26)

Deur: Benescke Botha

 

Dis reeds donker in Jerusalem waar die ouerige man nou versigtig, maar doelgerig deur die strate stap. Deur 'n stegie. Op by die trappe. Voor 'n deur gaan hy staan terwyl hy vir oulaas oor sy skouer kyk om seker te maak dat niemand hom gevolg het nie.

 

Tot voor hierdie oomblik het Nikodemus vir Jesus van 'n afstand af dopgehou. Op die markplein het hy saam met sy nors hooggeplaaste skrifgeleerde kollegas gestaan en luister hoe Jesus preek. Agterna was hy die enigste een van sy kollegas wat Jesus nie openlik in vergaderings gekritiseer het nie. Maar hoe kon hy? Nog nooit het Nikodemus gehoor hoe enigiemand met soveel insig en duidelikheid oor die woord praat nie. Nog nooit het hy God se krag so tasbaar beleef soos wanneer Jesus die siekes genees, die blindes laat sien en selfs lam mense weer laat opstaan nie.

 

Voor die deur waar Jesus en sy dissipels tuisgaan haal Nikodemus nog 'n slag diep asem voordat hy hard klop. Hy het lank genoeg gewag. Vanaand sal hy self vir Jesus vra wat dit is wat hom so uniek maak...

 

Flits nou na 'n paar minute later waar Nikodemus met Jesus sit en gesels. Spits jou ore terwyl seker die belangrikste gesprek in die Bybel voor jou afspeel (Johannes 3 - geparafraseer):

 

Nikodemus: Rabbi, ons weet dat u 'n leermeester is wat van God af gekom het. Niemand kon nog ooit hierdie wondertekens doen as God nie by hom is nie...

Jesus: Nikodemus, ek wil vir jou iets belangriks sê: As jy nie weer gebore word nie, kan jy nooit in die nuwe ryk van God inkom nie.

Nikodemus: Maar Rabbi, wat bedoel u daarmee? Hoe is dit moontlik dat 'n ou man soos ek vir 'n tweede keer gebore kan word? Dit is tog nie moontlik nie?

Jesus: Glo wat Ek vir jou sê Nikodemus. Net soos 'n mens 'n natuurlike geboorte het, is dit ook belangrik om weer deur die Heilige Gees gebore te word. As jy dit nie doen nie, kan jy nie in die nuwe ryk van God ingaan nie. Die mens kan alleen menslike lewe voortbring, maar die Heilige Gees bring geestelike lewe voort.

Nikodemus: Maar Rabbi, hoe kan ek dit doen?

Jesus: Net soos Moses destyds die koperslang op 'n paal gehang het, so sal Ek, die Redder ook op 'n paal gelig word sodat elkeen wat op My vertrou die ewige lewe kan hê. Nikodemus, God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Die Seun is na die wêreld toe gestuur om mense vry te spreek. Elkeen wat dus in geloof vir Hom "ja" sê, is deur God vrygespreek...

 

Blaai nou vorentoe in jou Bybel na Johannes 14 en luister hoe Jesus nou met sy dissipels praat. Johannes 14:6: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie."

 

Blaai nog vorentoe en lees wat Paulus na Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart geskryf het. Romeine 3: 21-24: "Nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus." Dit is ons geloof in Jesus Christus wat ons vrymaak.

 

Na daardie aand se ontmoeting met Jesus was Nikodemus nooit weer dieselfde nie. In Johannes 19 lees ons dat Nikodemus selfs bereid was om na Jesus se kruisdood saam met Josef van Arimatea vir Pilatus toestemming te gaan vra sodat hulle Jesus se liggaam van die kruis kon gaan afhaal en behandel voordat hulle hom begrawe het. Die keer was Nikodemus nie skaam of bang oor wat ander mense sou sê nie. Die keer was hy oortuig deur sy geloof in Jesus as die Seun van God.

 

Hoe lyk jou lewe vandag? Het jy daardie sekerheid in jou hart dat jy wedergebore is? Weet jy dat jou naam in die Boek van die Lewe geskryf staan? Is jy seker dat as jy vandag sou sterf jy saam met Jesus Christus in die hemel sal wees? As jy nie seker is nie of soms twyfel, kan ek jou uitnooi om vandag hierdie gebed hieronder te bid - 'n 30 sekonde lange gebed wat jou ewigheid kan verander. Sterkte.

 

Vader God, ek kom vandag na U toe in die Naam van Jesus Christus. Ek besef dat ek op my eie 'n sondaar is. Vandag kies ek om Jesus Christus die Redder van my lewe te maak. Vul my met u Heilige Gees en lei my daagliks om 'n sterker verhouding met U te bou. Ek kies vandag om soos Nikodemus weer gebore te word. Dankie dat ek dit kan bid in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html