REIN EN ONREIN KOSSOORTE

1.  Die Ou Testament sê duidelik dat sekere kossoorte rein ander onrein is (lees Levitikus 11  en Deuteronomium 14). 

2.   Baie mense sê dat hierdie wette van die Ou Testament slegs tydelik was en in die Nuwe Testament verander is.  Voordat 'n mens na die Nuwe Testament gaan kyk, is dit interessant om eers op 'n paar aspekte te let wat na vore kom uit gedeeltes van die Ou Testament wat oor rein en onrein kossoorte Handel: 

2.1  God het nooit te kenne gegee dat hierdie wette net "tydelik" van aard is nie - nie in die Ou Testament nie, ook nie in die Nuwe Testament nie. Voordat ons hierdie wette van die Ou Testament eenkant toe skuif moet ons seker maak: Is dit God wat gesê het dat ons hulle nie meer hoef te hou nie, of is dit mense wat woorde in sy mond lê wat Hy nooit gesê het nie? 

2.2 Ons sal vir ons die vraag moet afvra of die redes waarom God aan die begin sekere kossoorte verbied het (en Hy het sekerlik sy redes gehad), Dan nie meer vandag op ons van toepassing is nie. As Hy dit byvoorbeeld onder meer oor gesondheidsredes gedoen het (soos wat baie vandag meen), wat het Dan intussen gebeur dat die mens van vandag nie meer hierdie soort beskerming teen siektes nodig het nie? 

2.3 Een van die redes wat God self noem (beide in Lev 11 en Deut 14) is dat sy volk hierdie kossoorte nie moet eet nie omdat Hy 'n heilige God is wat verwag dat hulle ook 'n heilige (of afgesonderde) volk sal wees. Is Hy nie vandag nog steeds heilig nie? En verwag Hy nie nog steeds dat hulle wat hulleself graag  "sy volk" noem, ook heilig moet wees nie. 

2.4 Die Ou Testament gebruik baie sterk taal om God se hart oor onrein kosse aan ons te probeer openbaar. Dit word telkens gesê dat hierdie dinge vir Hom 'n gruwel (Engels: "abomination") is en dat dit ook vir die mense 'n gruwel moet wees. Wanneer hierdie woord in die Ou Testament aan 'n sekere praktyk gekoppel word, is dit gewoonlik iets waaroor ons Vader sy sterkste afkeer uitspreek, soos bv. Om  homoseksuële  praktyke te beoefen (Lev 18:22); om afgode in jou midde toe te laat (Deut 7:25); om kinders vir afgode te offer (Deut 12:31); om die son en die maan te aanbid (Deut 17:4); om jou met towery en waarseëry en die oproep van dooies besig te hou (Deut 18:12); en so kan 'n mens aangaan. As Hy destyds so sterk oor hierdie dinge gevoel het, wat het Dan intussen gebeur dat Hy vandag nie meer dieselfde sou voel nie? 

3.  Dit bring ons by die Nuwe Testament waar baie gelowiges aanvaar dat daar 'n  drastiese breuk met die Ou Testament plaasgevind het en die verbod op onrein kossoorte ook opgehef (geskrap) is.  Kom ons kyk of dit werklik is wat die Nuwe Testament leer. 

3.1  God gee vir ons 'n baie belangrike antwoord op die vraag of die wette en gebooie van die Ou Testament met die aanbreek van die Nuwe Testament  (of Nuwe Verbond) tot 'n einde gekom het, of nie. Dis 'n antwoord wat baie duidelik is en wat geen verdere verduideliking nodig het nie:  Matteus 5:17-19 "Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te onthind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle,  voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense so leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele." 

3.2     'n Gedeelte wat dikwels in hierdie verband genoem word is Mat 15:11: "Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein."  Het God hiermee bedoel dat voelselsoorte wat uitdruklik deur die wet verbied word, nou maar geëet mag word?  As 'n mens Matteus 15:1-20  in sy geheel deurlees, is dit duidelik dat Hy so-iets hoegenaamd nie impliseer nie.  Dit gaan in die eerste plek hier  nie oor watter kosse geëet mag word en watter nie, maar oor die vraag of dit nodig is om hande te was voor ete, of nie (vers 2). Boonop lees ons baie duidelik dat God die Fariseërs kwalik neem omdat hulle hare kloof oor 'n menslike oorlewering (soos dat 'n mens jou hande voor ete moet was), terwyl hulle dinge wat werklik in die gebod van God geskryf is, nie nakom nie (vers 3).  Hulle heg dus groter waarde aan die gebooie van mense as aan die gebod van God ("God het bevel gegee en gesê ... Maar julle sê ..." - vers 3 en 4).  As ons Matteus 15 wil gebruik om die eet van onrein kosse goed te keur, doen ons presies dieselfde wat hierdie Fariseers gedoen het (naamlik om ons meer te steur aan wat mense sê as aan wat God swart op wit in sy Woord sê)! 

3.3  Nog 'n gedeelte wat sommiges voorhou, is Hand 10 waar Petrus 'n visioen van 'n laken met onrein diere gesien het en 'n stem uit die hemel wat vir hom sê dat hy dit moet eet, want "Wat Elohim rein gemaak het, mag jy nie onheilig as nie" (vers 15). Hier is 'n paar dinge wat ons moet raaksien: 

� Ons het hier met 'n visioen te make. Dit was nie werklike diere wat Petrus moes slag en eet nie, en selfs in die visoen het Petrus nooit enigiets geëet nie, want die laken met die diere  is later weer net so in die hernel opgeneem (vers 16).  Die bedoeling met die visioen was om 'n sekere waarheid by Petrus tuis te bring wat hy andersins baie moeilik sou verstaan - die waarheid dat God die nie-Joodse nasies "rein" gemaak het (d.w.s. net soos die Jode, is hulle ook geskik vir die koninkryk) en dat die evangelie ook aan hulle gebring moes word (vers 28).  Vir iemand soos Petrus wat 'n Jood was, het dit 'n groot "paradigm shift" gevra om te aanvaar dat nie-Jode ook welkom is in die koninkryk van God. 

� God het dus nie met hierdie visioen diere wat Hy voorheen uitdruklik as "onrein" bestempel het, "rein" verklaar nie. Dit gaan ten diepste oor mense, en nie oor diere nie. Mense en volkere wat voorheen as "onrein" beskou is, nie-Joodse nasies wat in die verlede as buitestaanders en vreemdelinge beskou is - hulle word nou as "rein" verklaar.  Dis uitsluitlik met die oog op hierdie mense dat God die boodskap helder en duidelik aan Petrus deurgee: "Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie" 

� Wanneer Petrus later die diepere betekenis van die visioen verstaan, getuig hy teenoor Kornelius en sy mense: "Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is" (vers 34,35). Met hierdie woorde bevestig Petrus dat enige mens - ook hulle uit nie-joodse nasies - wat geregtigheid doen, is vir God welgevallig. Om geregtigheid te doen beteken in die Skrif normaalweg om die wet van God te hou en IN ALLES aan Hom geboorsaam te wees. 

3.4  Sommiges  verwys daarna dat Paulus in 1 Tim 4:4 geskryf het: "Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie".  Ons moet ook hierdie vers lees binne die konteks waarin hy staan. Vers 3 waarsku teen valse leraars wat leer "dat die mense  hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken".  Daar is sekere soorte voedsel wat God geskape het om  met danksegging geniet te word en ander wat Hy uitdruklik verbied om te eet.  Die gelowiges en "hulle wat die waarheid ken" weet watter voedsel met danksegging gebruik kan word en hoef hulle nie te laat mislei deur mense wat voorskrifte en wette verkondig wat  nie in die Woord staan nie (Ons  weet daar was in Paulus se tyd baie sulke "leraars" wat allerlei reëls en regulasies verkondig het wat niks met die Skrif te make het nie). Vers 5 sluit hierby aan: "want dit (wat jy eet) word geheilig deur die woord van God en die gebed".  Die feit dat die kos onder andere  ook deur die Woord van God geheilig word, beteken dat die Woord die maatstaf is van wat heilig is en wat nie. 

3.5  Baie mense haal ook Kol 2:16,17 aan: "Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot 'n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat 'n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus".  'n Beter vertaling van hierdie vers is die volgende: "Moenie dat enige iemand julle oordeel in spys en in drank nie,  hetsy met betrekking tot 'n fees, of 'n nuwemaan of sabbatte nie - wat 'n skaduwee is van die toekomstige dinge - maar die liggaam van Messias."   Moet dus nie toelaat, sê Paulus, dat sommer enige iemand jou beoordeel in sake wat met kos en drank te make het, ongeag by watter feesgeleentheid hierdie kos en drank gebruik word nie. Al hierdie dinge is 'n skaduwee van die dinge wat nog vir julle voorlê.  (Dit het met ander woorde 'n geestelike  betekenis wat mense buite die kring van gelowiges nie verstaan nie).  Net die liggaam van Messias - die gemeenskap van gelowiges - het die bevoegdheid om julle in hierdie sake te beoordeel (omdat hulle soos 1 Tim 4:5 dit stel, die Woord as maatstaf kan gebruik van wat heilig is en wat nie). 

3.6  'n Laaste gedeelte wat ook dikwels ter sprake kom, is Rom 14:3:   "Die een glo dat 'n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente.  Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem".   Twee vrae word   gewoonlik oor hierdie gedeelte gevra, naamlik: (1) Wat bedoel Paulus met "hy wat swak is" en (2) Watter soort kos is dit wat sommiges, volgens hierdie hoofstuk, nie wil eet nie:  vleis wat spesifiek  deur die Skrif as onrein verklaar word, of vleis wat (moontlik) aan afgode geoffer is (soos in 1  Korintiërs 8)?  Baie mense antwoord beide hierdie vrae deur die "maklike" antwoord te kies:  Die een  wat "swak" is, sê hulle, is die een wat glo dat gelowiges nie die kossoorte mag eet wat in Lev 11en Deut 14 verbied word nie. Die een wat "sterk" is in die geloof is dus die een wat die Ou Testament "agter gelaat" het en hom nie meer deur die riglyne van die Ou Testament gebind voel nie.  Hierdie siening "klink" dalk baie reg, maar is heeltemal teenstrydig met die boodskap van die res van die Skrif:  

� As diegene wat "swak" is in die geloof, hulle is wat glo gelowiges mag nie onrein kossoorte eet nie, dan was Petrus (een van die leiers van die vroeë kerk) ook "swak" in die geloof, want hy het al die jare na Jesus se hemelvaart nooit enige onrein kos geëet nie (Hand 10:14).  Dan het Jesus 'n "swak" geloof aangemoedig, want Hy het gesê dat sy volgelinge nie "die minste van die gebooie" mag breek nie (Mat 5:19). Dan was Paulus waarskynlik self ook 'n "swakke" want in Hand 25:8 sê hy tot sy eie verdediging voor die goewerneur: "Ek het niks teen die wet van die Jode of teen die tempel of teen die keiser gesondig nie." 

� Die beste manier om uit te vind wat Paulus hier bedoel met hulle wat "swak" is (in die geloof), is om vas te stel of daar nie 'n ander plek is waar hy ook van "swakkes" praat wanneer dit kom by die eet van sekere kossoorte nie. Daar is so 'n gedeelte, naamlik 1 Korintiërs 8. In 1 Kor 8:10,11 lees ons: "Want as iemand jou wat kennis het, aan tafel sien in 'n afgodstempel, sal sy gewete, as hy 'n swak man is, nie aangemoedig word om van die offervleis aan die afgode te eet nie? En moet die swakke broeder vir wie Jesus gesterf het, verlore gaan deur jou kennis?"  In hierdie hoofstuk kan ons duidelik sien wat die eintlike probleem in Korinte en heel waarskynlik ook in Rome was: Die gelowiges was naamlik nie seker of hulle vleis mag eet wat aan afgode geoffer of gewy is nie (vgl. 1 Kor 8:1,4,7).  Die "swakkes" is hulle wat nog jonk en onervare is in die geloof en wat maklik tot struikeling gebring kan word deur "sterker" gelowiges wat vleis eet wat aan sogenaamde afgode geoffer is. Dit gaan hoegenaarnd nie oor die eet van vleis en kossoorte wat uitdruklik deur die Skrif verbied word nie. 

�  Dit is duidelik dat Romeine 14 ook teen hierdie agtergrond verstaan moet word - veral ook vers 14 wat sê: "Ek weet en is oortuig in God dat niks op sigself onrein is nie, maar hy wat reken dat iets onrein is, vir hom is dit onrein."  Dat dit hier gaan oor dieselfde kwessie as in I Korintiërs 8, (met ander woorde: Mag gelowiges vleis eet wat aan afgode geoffer is?) is baie duidelik, want in die volgende vers (Rom 14:15) lees ons: "Maar as jou broeder deur voedsel gegrief word, dan wandel jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur jou voedsel horn te gronde rig vir wie die Messias gesterf het nie." Dieselfde gedagte word telkens in 1 Korintiërs 8 beklemtoon, byvoorbeeld 1 Kor 8:13: "Daarom, as voedsel my broeder laat struikel, sal ek in der ewigheid geen vleis eet nie, om my broeder nie te laat struikel nie."  In geeneen van hierdie twee hoofstukke is daar die geringste verwysing na die onrein diere waaroor die Skrif reeds 'n duidelike verbod geplaas het nie.  Die vroeë gelowiges het geen vrae gevra oor dit wat duidelik in die Skrif geleer word nie, want die Skrif (d.w.s. die Ou Testament, want daar was nog nie 'n geskrewe Nuwe Testament nie) was die enigste maatstaf waarvolgens hulle hulle lewens ingerig het - vgl. Hand 17:2; H and 17:11; Hand 18:24; Rom 15:4; 1 Tim 5:18; 2 Tim 3:15,16; Jak 2:8 en 2 Pet 3:15,16.

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html