Sewendedag-Adventiste Glo ...

Hier volg slegs 'n opsomming van ons leerstellings.  Vir 'n meer volledige en Bybelse Uiteensetting van  die 27 Fundamentele Leerstellings kan u die naaste Sewendedag-Adventiste Gemeente kontak vir die boek.

 

1.  Die Woord van God

Die Heilige Skrifte, die Ou en die Nuwe Testament, is die geskrewe Woord van God, deur Goddelike ingewing oorgedra aan heilige manne van God wat gespreek en geskryf het soos deur die Heilige Gees gedrywe.  In hierdie Woord het God die kennis aan die mens oorgedra wat nodig is vir sy verlossing.  Die Heilige Skrifte is die onfeilbare openbaring van Sy wil.  Hulle is die norm vir karakter, die toets vir ondervinding, die gesaghebbende openbaarder van leerstellings en die betroubare beskrywing van God se handelinge in die geskiedenis.

2.  Die Godheid

Daar is een God:  Vader, Seun en Heilige Gees, 'n eenheid van drie mede-ewige Wesens.  God is onsterflik, almagtig, alwetend, en bo alles, alomteenwoordig.  Hy is perkeloos en bo menslike begrip, en tog bekend deur Sy selfopenbaring.  Hy is ewig waardig om aanbid en gedien te word deur Sy ganse skepping.

3.  God die Vader

God die Ewige Vader is die Skepper, Bron, Onderhouer en Heerser van die ganse skepping.  Hy is regverdig en heilig, genadig en barmhartig, lankmoedig en oorvloedig in onfeilbare liefde en trou.  Die hoedanighede en kragte wat in die Seun en in die Heilige Gees kenbaar is, is ook openbarings van die Vader.

4.  God die Seun

God die ewige Seun het in Jesus Christus vlees geword.  Deur Hom is alle dinge geskape, is die natuur van God geopenbaar, die verlossing van die mensdom bewerkstellig en word die wêreld geoordeel.  Hy wat ewig ware God was, het ook waarlik mens geword, Jesus Christus.  Hy is deur die Heilige Gees verwek en uit die maagd Maria gebore.  Hy het soos 'n mens geleef en versoeking verduur, maar Hy het die geregtigheid en liefde van God volkome uitgeleef.  Deur Sy wonderwerke het Hy God se krag gedemonstreer en is Hy geopenbaar as God se beloofde Messias.  Hy het vrywillig gely en vir ons sondes en in ons plek aan die kruis gesterf, is uit die dood uit opgewek en het opgevaar om in die hemelse heiligdom vir ons op te tree.  Hy sal in heerlikheid terugkeer vir die finale verlossing van Sy kinders en die herstel van alle dinge.

5.  God die Heilige Gees

God die ewige Gees was saam met die Vader en die Seun werksaam met die Skepping, vleeswording en verlossing.  Hy het die skrywers van die Bybel geïnspireer.  Hy het Christus se lewe met krag vervul.  Hy trek en oortuig mense; en diegene wat gehoor gee, vernuwe en verander Hy na die beeld van God.  Omdat Hy deur die Vader en die Seun gestuur is om altyd by Sy kinders te wees, deel Hy geestelike gawes aan die kerk uit, stel Hy dit in staat om vir Christus te getuig, en lei Hy dit ooreenkomstig die Skrifte in alle waarheid.

6.  Die Skepping

God is die Skepper van alles en Hy het die ware verhaal van Sy Skeppingswerk in die Skrifte geopenbaar.  In ses dae het die Here "die hemel en die aarde" en alles gemaak wat op aarde leef; en op die sewende dag van daardie week het Hy gerus.  Dus stel Hy die Sabbat vas as 'n voortdurende gedenkdag van Sy voltooide skeppingswerk.  Die eerste man en die eerste vrou is na die beeld van God as kroonstuk van die skepping gemaak.  Hy het hulle as heersers oor die aarde aangestel en aan hulle die verantwoordelikheid gegee om daarvoor te sorg.  Toe die aarde voltooi was, was dit "baie goed" en het dit die heerlikheid van God verkondig.

7.  Die natuur van die Mens

Die man en vrou is na die beeld van God gemaak met die persoonlikheid en die vermoë en vryheid om te dink en te handel.  Hoewel hulle as vrye wesens geskep is, is elk 'n onverdeelbare geheel van liggaam, verstand en gees, wat van God afhanklik is vir die lewe, asem en al die ander dinge.  Toe ons stamouers God ongehoorsaam was, het hulle hul afhanklikheid van God verloën en hul bevoorregte staat voor God verbeur.  Die beeld van God is in hulle geskend en hulle het aan die dood onderhewig geword.  Hul afstammelinge deel hierdie sondige natuur en die gevolge daarvan.  Hulle word gebore met swakhede en met die neiginge tot die bose.  Maar God het in Christus die wêreld met Hom versoen, en deur sy Gees herstel Hy die beeld van hul Maker aan berouvolle sterflinge.  Hulle is vir die verheerliking van God geskape en is geroepe om Hom en mekaar lief te hê, en om hul omgewing op te pas.

8.  Die Groot Stryd

Die hele mensdom is tans by 'n groot stryd betrokke tussen Christus en die Satan oor die natuur van God, Sy wet en Sy soewereiniteit oor die heelal.  Hierdie stryd het in die hemel ontstaan toe 'n geskape wese wat met vryheid van keuse bedeel was, homself verhef, en sodoende die Satan, die teenstander van God geword het.  Hy het 'n gedeelte van die engelskare saam met hom tot rebellie opgesweep.  Hy het die gees van opstand in hierdie wêreld ingevoer toe hy Adam en Eva tot die sonde verlei het.  Hierdie menslike sonde het daartoe gelei dat die beeld van God in die mens geskend, die geskape wêreld ontwrig en die wêreld tydens die wêreldvloed  verwoes is.  Terwyl die hele skepping toekyk, het hierdie wêreld die arena van die universele konflik geword, waaruit die God van liefde uiteindelik gelyk gegee sal word.  Om Sy volk in hierdie stryd by te staan, stuur Christus die Heilige Gees en die getroue engele om hulle op die verlossingsweg te lei, te beskerm en te onderhou.

9.  Die Lewe, Dood en Opstanding van Christus

In Christus se lewe van volkome gehoorsaamheid aan die wil van God, Sy lyding, dood en opstanding, het God die enigste middel vir die versoening van die mens se sonde voorsien, sodat diegene wat hierdie versoening deur geloof aanneem, die ewige lewe kan hê, en sodat die hele skepping die ondeurgrondelike en heilige liefde van die Skepper kan verstaan.  Hierdie volkome versoening bewys die geregtigheid van die wet van God en die barmhartigheid van Sy natuur; want dit veroordeel ons sonde èn maak voorsiening vir ons vergifnis.  Die dood van Christus is plaasbekledend en kwytskeldend, versoenend en vernuwend.  Die opstanding van Christus verkondig God se sege oor die bose magte, en vir diegene wat die versoening aanvaar, waarborg dit hul uiteindelike oorwinning oor die sonde en die dood.  Dit verklaar die Heerskappy van Jesus Christus, voor wie elke knie in die hemel en op aarde sal buig.

10.  Die Belewenis van Verlossing

In Sy grenslose liefde en genade het God Christus, wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons in Hom die geregtigheid van God gemaak kan word.  Onder die ingewing van die Heilige Gees besef ons ons behoefte, erken ons ons sondigheid, het ons berou oor ons oortredinge, en oefen ons geloof in Jesus uit as Here en Christus, as Plaasvervanger en Voorbeeld.  Hierdie geloof wat die verlossing aanneem, kom deur die Goddelike krag van die Woord en is die genadegawe van God.  Deur Christus word ons geregverdig, aangeneem as seuns en dogters, en verlos van die heerskappy van die sonde.  Deur die Gees word ons herbore en geheilig; die Gees vernuwe ons gees en skryf God se liefdeswet in ons hart, en ons ontvang krag om 'n heilige lewe te lei.  Deur in Hom te bly, word ons deelgenote van die Goddelike natuur en het ons die versekering van verlossing nou en in die oordeel.

11.  Die Kerk

Die kerk is die gemeenskap van gelowiges wat Jesus Christus as Here en Verlosser bely.  As opvolgers van die volk van God in die Ou-Testamentiese tye word ons uit die wêreld uitgeroep;  en ons verenig ons vir aanbidding, vir gemeenskap, vir onderrig uit die Woord, vir die viering van die Heilige Nagmaal, vir diens aan die mensdom en vir die verkondiging van die evangelie oor die hele wêreld.  Die kerk ontvang sy gesag van Christus, wat die vleesgeworde Woord is, en uit die Skrifte, wat die geskrewe Woord is.  Die kerk is die gesin van God, deur Hom as kinders aangeneem, en sy lede leef op die grondslag van die nuwe verbond.  Die kerk is die liggaam van Christus, 'n geloofsgemeenskap waarvan Christus self die Hoof is.  Die kerk is die bruid vir wie Christus gesterf het sodat Hy haar kan heilig en reinig.  Met Sy triomfantlike wederkoms sal Hy haar as 'n heerlike kerk vir Hom neem - die getroues van al die eeue, wat met Sy bloed gekoop is en sonder vlek of rimpel, maar heilig en vlekkeloos is.

12.  Die Oorblyfsel en Sy Sending

Die universele kerk bestaan uit almal wat waarlik in Christus glo, maar in die laaste dae, ten tye van grootskaalse afvalligheid, is 'n oorblyfsel uitgeroep om die gebooie van God te onderhou en die geloof van Jesus te hê.  Hierdie oorblyfsel kondig die begin van die oordeelsuur aan, verkondig verlossing deur Christus, en dien as voorloper vir die wederkoms van Christus.  Hierdie aankondiging word gesimboliseer deur die drie engele van Openbaring 14; dit val saam met die oordeelswerk in die hemel en loop uit op 'n daad van bekering en hervorming op aarde.  Elke gelowige word geroep om persoonlik aan hierdie wêreldomvattende getuienis deel te neem.

13.  Eenheid in die Liggaam van Christus

Die kerk is een liggaam met baie lede, wat uit elke nasie, stam en taal en volk geroep word.  In Christus is ons 'n nuwe skepping; onderskeiding tussen ras, kultuur, geleerdheid en nasionaliteit, en verskille tussen hoog en laag, ryk en arm, man en vrou, moet nie verdeeldheid tussen ons bring nie.  Ons is almal gelyk in Christus, wat ons deur een Gees saamgebind het in een gemeenskap saam met Hom en met mekaar; ons moet dien en gedien word sonder partydigheid of voorbehoud.  Deur die openbaring van Jesus Christus in die Skrifte deel ons dieselfde geloof en hoop, en reik ons die hand in een getuienis aan almal.  Hierdie eenheid het sy bron in die eenheid van die Drie-enige God, wat ons as Sy kinders aangeneem het.

14.  Die Doop

Deur die doop bely ons ons geloof in die dood en opstanding van Jesus Christus en getuig ons dat ons vir die sonde gesterf het en dat ons van voorneme is om 'n nuwe lewe te lei.  So erken ons Christus as Here en Verlosser, word ons Sy volk, en word ons as lidmate van Sy kerk aangeneem.  Die doop is 'n simbool van ons vereniging met Christus, vergifnis van ons sondes en ons ontvangs van die Heilige Gees.  Dit geskied deur onderdompeling in water na bevestiging van geloof in Jesus en blyke van berou oor die sonde.  Dit volg na onderrig in die Heilige Skrifte en 'n aanvaarding van hul leer.

15.  Die Heilige Nagmaal

Die Nagmaal is deelname aan die simbole van die liggaam en bloed van Jesus om geloof in Hom, ons Here en Verlosser, te betuig.  In hierdie gemeenskap is Christus teenwoordig om Sy kinders te besoek en te versterk.  In ons deelname verkondig ons die Here se dood met blydskap totdat Hy weer kom.  Voorbereiding vir die Nagmaal behels onder ander selfondersoek, berou en belydenis.  Die Meester het die voetewasdiens ingestel as simbool van hernieude reiniging, om bereidwilligheid te toon om mekaar in ware Christelike nederigheid te dien en om ons hart in liefde te verenig.  Die Nagmaal is vir alle gelowige Christene toeganklik.

16.  Geestelike Gawes en Bedieninge

God deel aan alle lede van Sy kerk in elke eeu geestelike gawes uit wat elke lid in 'n liefdevolle bediening moet gebruik vir die algemene welsyn van die kerk en die mensdom.  Hierdie gawes, wat deur middel van die Heilige Gees aan elke lid volgens Sy eie wil gegee word, voorsien in al die bekwaamhede en bedieninge wat die kerk nodig het om sy Goddelik aangewese funksies te kan uitvoer.  Volgens die Skrifte sluit hierdie gawes bedieninge soos geloof, genesing, profesie, verkondiging, onderrig, administrasie, versoening, deernis, en selfopofferende diens en weldadigheid in om mense te help en aan te moedig.  Sommige lede word deur God geroep en deur die Gees toegerus vir funksies wat deur die kerk erken word in herderlike, evangelistiese, apostoliese en opvoedkundige bedieninge wat veral nodig is om die lede toe te rus vir diens, om die gemeente op te bou tot geestelike volwassenheid, en om die eenheid van die geloof en kennis van God te bevorder.  As lede hierdie geestelike gawes as getroue rentmeesters van God se genadebedelinge gebruik, word die kerk beskerm teen die verwoestende invloed van valse leerstellings, groei hy met 'n wasdom wat van God is, en word hy in geloof en liefde opgebou.

17.  Die Profetiese Gawe

Een van die gawes van die Heilige Gees is die profesie.  Hierdie gawe is die kenmerk van die oorblyfselkerk en is in die bediening  van Ellen G. White gemanifesteer.  Omdat sy die boodskapper van die Here is, is haar geskrifte 'n voortdurende en gesaghebbende bron van waarheid wat troos, leiding, onderrig en vermaning vir die kerk voorsien.  Hulle stel ook duidelik dat die Bybel die norm is waaraan alle leer en belewenisse getoets moet word.

18.  Die Wet van God

Die groot beginsels van die wet van God is in die Tien Gebooie beliggaam en in die lewe van Christus uitgeleef.  Hulle is 'n uitdrukking van die liefde, wil en oogmerke van God aangaande menslike gedrag en verhoudinge en is op alle mense in elke eeu bindend.  Hierdie gebooie maak die grondslag uit van God se verbond met Sy volk en is die maatstaf waarvolgens God oordeel.  Met behulp van die Heilige Gees wys hulle sonde uit en wek hulle die besef van 'n behoefte aan 'n Verlosser.  Verlossing is geheel en al uit genade en nie weens werke nie, maar sy vrugte is gehoorsaamheid aan die Gebooie.  Hierdie gehoorsaamheid ontwikkel 'n Christelike karakter en gee aanleiding tot 'n gevoel van welsyn.  Dit is 'n bewys van ons liefde vir die Here en ons belangstelling in ons medemens.  Geloofsgehoorsaamheid demonstreer die krag van Christus om lewens te vernuwe en dus versterk dit die Christelike getuienis.

19.  Die Sabbat

Die weldadige Skepper het, na die ses dae van die Skepping, op die sewende dag gerus en die Sabbat vir alle mense ingestel as 'n aandenking aan die Skepping.  Die vierde gebod van die onveranderlike wet van God vereis dat die sewendedag-Sabbat as rusdag gehou moet word, vir aanbidding en bediening ooreenkomstig die leer en gebruik van Jesus, die Here van die Sabbat.  Die Sabbat is 'n dag van heuglike gemeenskap met God en met mekaar.  Dit is 'n simbool van ons verlossing in Christus, 'n teken van heiliging, 'n teken van ons trou, en 'n voorsmaak van ons ewige toekoms in die koninkryk van God.  Die Sabbat is God se ewigdurende teken van Sy ewige verbond tussen Hom en Sy kinders.  'n Vreugdevolle nakoming van hierdie heilige tyd van sononder tot sononder, is 'n viering van God se skeppende en verlossende dade.

20.  Rentmeesterskap

Ons is God se rentmeesters aan wie Hy tyd en geleenthede, bekwaamhede en besittings, en die seëninge van die aarde en Sy hulpbronne toevertrou het.  Ons is aan Hom verantwoordelik vir die wyse waarop ons hulle gebruik.  Ons erken God as eienaar deur getroue diens aan Hom en aan ons medemens te lewer, en deur tiendes en offergawes vir die verkondiging van Sy evangelie en die onderhoud en uitbreiding van Sy kerk te gee.  Rentmeesterskap is 'n voorreg wat God aan ons gee om in liefde te groei en om selfsug en hebsug te oorwin.  Die rentmeester verheug hom in die seëninge wat andere as gevolg van sy getrouheid ontvang.

21.  Christelike Gedrag

Ons is geroepe om 'n godvresende volk te wees wat ooreenkomstig die hemelse beginsels dink, voel en handel.  Om die Gees in staat te stel om die karakter van ons Here in ons te kweek, moet ons alleen deelneem aan die dinge wat Christelike reinheid, gesondheid en vreugde in ons lewens sal wek.  Dit beteken dat ons vermaak en ontspanning aan die hoogste norme van Christelike smaak en skoonheid moet voldoen.  Terwyl kulturele verskille erken moet word, moet ons kleredrag eenvoudig, beskeie en netjies wees, wat gepas is vir diegene wie se ware skoonheid nie in uiterlike versiering bestaan nie, maar in die onverderflike sieraad van 'n sagmoedige en rustige gees.  Dit beteken ook dat ons liggaam die tempel van die Heilige Gees is, en dat ons dit met insig moet versorg.  Benewens toereikende oefening en rus, moet ons ook die gesondste dieet moontlik volg en ons weerhou van die onrein voedselsoorte wat in die Skrif genoem word.  Aangesien alkoholiese drank, tabak en die onverantwoordelike gebruik van dwelmstowwe nadelig vir ons liggame is, moet ons ons ook daarvan weerhou.  Pleks daarvan moet ons ons besig hou met alles wat ons gedagtes en liggaam onder die tug van Christus bring; Hy verlang dat ons gesond, gelukkig en goed sal wees.

22.  Die Huwelik en die Gesin

Die huwelik is deur God in Eden ingestel en deur Jesus bevestig as 'n lewenslange vereniging tussen man en vrou in 'n liefdevolle kameraadskap.  Vir die Christen is die huwelik 'n toewyding aan sowel God as aan die gade, en behoort dit net aangegaan te word tussen persone wat dieselfde geloof aanhang.  Wedersydse liefde, eerbied, respek en verantwoordelikheid is die raamwerk van hierdie verhouding wat die liefde, heiligheid, intiemheid en ewigdurendheid van die verhouding tussen Christus en Sy kerk moet uitbeeld.  Wat egskeiding betref, het Jesus geleer dat iemand wat van sy gade skei, behalwe op grond van ontug, en met 'n ander trou, egbreuk pleeg.  Hoewel sommige gesinsverhoudinge moontlik nie aan die ideaal voldoen nie, kan gades wat hulle volkome in Christus aan mekaar wy, onder die leiding van die Gees en met die sorg van die kerk 'n liefdevolle eenheid ondervind.  God seën die gesin en wil hê sy lede moet mekaar aanmoedig tot volkome volwassenheid.  Ouers moet hulle kinders so grootmaak dat hulle die Here liefhet en gehoorsaam.  Deur voorbeeld en onderrig moet hulle hul leer dat Christus 'n liefdevolle Tugmeester is, vol deernis en sorg, wat wil hê dat hulle lede van Sy liggaam, die gesin van God, moet word.  Hegter gesinsbande is een van die kentekens van die laaste evangelieboodskap.

23.  Christus se Bediening in die Hemelse Heiligdom

Daar is 'n heiligdom in die hemel, die ware tabernakel wat die Here gebou het en nie die mens nie.  Daarin tree  namens ons op en stel Hy die voordele van Sy soenoffer wat Hy eens en vir altyd aan die kruis gedoen het,  aan gelowiges beskikbaar.  Hy is tydens Sy hemelvaart as ons groot Hoëpriester ingehuldig en toe het Hy as Middelaar begin dien.  In 1844, aan die einde van die profetiese tydperk van 2300 dae, het Hy die tweede en laaste fase van Sy versoeningsbediening betree.  Dit is 'n ondersoekende oordeel wat deel uitmaak van die uiteindelike verwydering van sonde, waarvan die reiniging van die ou Hebreeuse tempel op die groot Versoendag 'n voorafskaduwing was.  In daardie skadudiens is die heiligdom met die bloed van offerdiere gereinig, maar die hemelse dinge word met die volmaakte offer van die bloed van Jesus gereinig.  Die ondersoekende oordeel openbaar aan die hemelse wesens wie van die dooies in Christus slaap en daarom in Hom waardig geag word om aan die eerste opstanding deel te hê.  Dit maak ook bekend wie onder die lewendes in Christus bly, die gebooie van God en die getuienis van Jesus hou en daarom in Hom gereed is om in Sy ewige koninkryk opgeneem te word.  Hierdie oordeel bewys die regverdigheid van God om diegene te red wat in Jesus glo.  Dit verklaar dat diegene wat getrou aan God gebly het, die koninkryk sal ontvang.  Die voltooiing van hierdie bediening van Christus sal die einde van die genadetyd vir die mensdom vòòr die Wederkoms aandui.

24.  Die Wederkoms van Christus

Die wederkoms van Christus is die salige hoop van die kerk, die grootste klimaks van die evangelie.  Die Heiland se koms sal letterlik wees, persoonlik, sigbaar en wêreldomvattend.  Met Sy terugkeer sal die regverdige dode opgewek word en saam met die regverdige lewendes verheerlik en na die hemel geneem word, terwyl die onregverdiges sal sterf.  Die bykans volkome vervulling van die meeste reekse profesieë, saam met die huidige wêreldtoestande, dui daarop dat die koms van Christus ophande is.  Die tyd vir daardie gebeurtenis is nie geopenbaar nie, en ons word daarom gewaarsku om te alle tye gereed te wees.

25.  Die Dood en die Opstanding

Die loon van die sonde is die dood.  Maar God, wat alleen onsterflik is, sal die ewige lewe aan Sy verlostes skenk.  Tot dan is die dood 'n bewustelose toestand vir alle mense.  Wanneer Christus verskyn, wat ons lewe is, sal die herrese regverdiges en die lewende regverdiges verheerlik word en opgeneem word om hulle Here te ontmoet.  Die tweede opstanding, die opstanding van die onregverdiges, sal duisend jaar later plaasvind.

26.  Die Duisend Jaar en die Einde van Sonde

Die millennium is die duisendjarige heerskappy van Christus saam met Sy heiliges in die hemel tussen die eerste en tweede opstanding.  Gedurende hierdie tyd sal die dooie goddeloses geoordeel word; die aarde sal totaal verwoes wees, sonder enige menslike inwoners, maar deur die Satan en sy engele bewoon.  Na afloop daarvan sal Christus met Sy heiliges en die Heilige Stad van die hemel na die aarde neerdaal.  Die dooie goddeloses sal dan opgewek word en sal die stad saam met Satan en sy engele omring; maar vuur wat van God neerdaal, verteer hulle en reinig die aarde.  So sal die heelal vir altyd van sonde en sondaars bevry wees.

27.  Die Nuwe Aarde

Op die nuwe aarde, waar geregtigheid woon, sal God 'n ewige verblyf vir die verlostes en 'n volmaakte omgewing vir 'n ewige lewe, liefde, geluk en die opdoen van kennis in Sy teenwoordigheid voorsien.  Want hier sal God self onder Sy kinders woon, en lyding en die dood sal iets van die verlede wees.  Die groot stryd sal beëindig wees, en daar sal geen sonde meer wees nie.  Alle dinge, lewend en leweloos, sal verklaar dat God liefde is; en Hy sal tot in ewigheid regeer.  Amen

google-site-verification: google2616709f85088bf5.html